Agri SA deel van president se klimaatkommissie

God-se-goedheid

(Argieffoto: Reint Dykema)

Janse Rabie, Agri SA se hoof van reg- en beleidsake, is aangewys as lid van die presidensiële klimaatkommissie.

“Hierdie belangrike liggaam het ’n sentrale rol om te speel, aangesien Suid-Afrika werk om aan te pas by klimaatsverandering en die uitwerking en oorsake daarvan te versag. Met die landbou as een van die sektore wat die meeste deur hierdie verskynsel geraak word, is die aanstelling van ’n verteenwoordiger vir die sektor ’n belangrike stap ter bevordering van die konsensus wat benodig word om die uitdagings wat vir ons voorlê, doeltreffend te pak,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Die klimaatkommissie is op die been gebring om die oorgang na skoner energie te koördineer en toesig daaroor te hou.

Rabie (48) is benewens sy rol as reg- en beleidshoof by Agri SA ook die organisasie se hoof van natuurlike hulpbronne. Hy is as prokureur gekwalifiseer en het ʼn meestersgraad in mariene en omgewingsreg van die Universiteit van Kaapstad.

“Niemand woon nader aan, maak meer staat op, of word meer deur die klimaat en ons natuurlike omgewing geraak as ons boere nie. Ek sien daarna uit om die perspektiewe en ervaring van Agri SA en die landbousektor te bring na die belangrike werk wat tans deur die presidensiële klimaatkommissie verrig word,” sê Rabie.

“Voedselsekerheid in Suid-Afrika sal in die komende jare afhang van ons vermoë om ʼn volhoubare omgewing vir boerdery te handhaaf. Ons sien dus uit daarna om met ander sektore van die ekonomie en die samelewing as geheel saam te werk ten einde ’n veerkragtige en voorspoedige land vir toekomstige geslagte te skep.”

Van der Rheede sê die landbousektor is onlosmaaklik gekoppel aan die natuurlike omgewing.

“Dit beïnvloed, en word ook beïnvloed deur, klimaatwisselvalligheid en ‑verandering. Belangrike werk word gedoen om die oorsake en gevolge van klimaatsverandering te pak, met inbegrip van die Wetsontwerp op Klimaatsverandering wat tans voor die parlement dien. Die landbousektor moet ’n integrale rol speel namate Suid-Afrika op ʼn sinvolle en doeltreffende wyse op die groeiende bedreiging reageer,” sê Van der Rheede.

Agri SA sê terwyl klimaatsverandering risiko’s vir Suid-Afrika inhou, bied dit ook groot geleenthede vir innovering en plaaslike oplossings in die landbousektor en elders.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê hoewel Afrika die minste tot klimaatsverandering bydra, is dit die vasteland wat die uitwerking daarvan die meeste voel.

“Die oorstromings vroeër vanjaar, die veldbrande in die Tafelberg-gebied en die sprinkaanplaag in dele van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap word alles met klimaatsverandering verbind. Dit het ʼn uitwerking op ons gesondheid en veiligheid, ons maatskaplike en ekonomiese infrastruktuur sowel as op ons land se voedselsekerheid.”

(Argieffoto: Stellenbosch-munisipaliteit)

Ramaphosa sê daar is ʼn duidelike verband tussen die gereeldheid van uiterste weersomstandighede en klimaatsverandering.

Die president is hierdie week by die Verenigde Nasies (VN) se klimaatveranderingskonferensie (bekend as COP27) in Egipte waar ontwikkelende lande na verwagting onder toenemende druk sal kom om ʼn groter bydrae in die stryd teen aardverwarming te lewer.

“Hoewel Suid-Afrika sy kant bring in die stryd teen wêreldwye klimaatsverandering, het ons die reg tot ontwikkeling, konsekwent benadruk. Ons moet verseker dat die oorgang na ʼn laekoolstof‑ekonomie wat veerkragtig teen klimaatsverandering is, nie ons ontwikkelingsdoelwitte in die gedrang bring nie.

“Die oorgang van fossielbrandstof na groener en skoner energiebronne kan nie ten koste van ekonomiese groei en werkskepping plaasvind nie.”

Ramaphosa sê Suid-Afrika sal sy eie bydrae in die stryd teen klimaatsverandering uitstippel, maar gaan terselfdertyd eis dat ontwikkelde lande ook hul verpligtinge nakom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

JohanR ·

En daar is nog ‘n president kommissie met seker 25 lede. Hoeveel van die goed het onse president al op die been gebring?

domheks ·

en niks lewer resultate op nie! Werkskepping deur ramaparra

Trotse Boervrou ·

Klimaatsverandering is al vir eeue deel van die natuur. Almal hanteer dit al vir eeue op hul eie en ons almal leef nog. Een van die dae gaan ons ook dalk aangesê word om vir die diere se “uitlaatgasse” te betaal en honderde diere vankant te maak. Jy sal ook nie meer mag gif spuit vir groente ens. wat jy plant nie of so belas word dat geen boer meer kans sien om te plant, ens nie. En siedaar, geen boer meer oor nie. Wat is die plan agter dit alles? Dalk alles Staatsbeheer?

Republikein in die Wes Kaap ·

Al dié dinge gebeur al in Nieu Seeland.

De Villiers ·

Ons kan 100000 klimaatkommissies op die been bring, nie een van hulle sal eninge impak maak op die natuurlilke klimaatsverandering nie.

Casper ·

Die grootste onsekerheid oor voedselsekerheid lê in die regering se onteiening sonder vergoeding en Landbank wat boere se plase vat en sinnelose plaasaanvalle.

VaalDonkie ·

Ek hoop hulle verdubbel die kommissie na 50 of selfs 100 lede. Want hoe groter hy is, hoe minder gaan hulle gedoen kry.

Johan ·

Dalk sal die liggies nou aangaan as daar genoeg aandag op die klugspul is. Natuurlik is besoedeling n probleem maar diè is nog n C19 krisis.

Chris ·

Hier is ‘n voorstel – stop om steenkool na China uit te voer, en hou op om Suid Afrikaners ekonomies skade aan te doen deur metaan en koolstof penalisasie. Die uiteinde van hierdie bose agenda is dat ons almal insekte moet eet soos die Kanadese regering reeds vir hul burgers beplan. Die veeboer se genetika is in sy hand, die reen kom van bo en die gras voed die diere – dit is moeilik om hul te beheer. Die saaiboer se genetika is by Monsanto, hy is afhanklik van byprodukte van die rafinerings-proses soos stikstof en dan ook fosfaat, diesel (wat ‘n vloekwoord) en dan laaste maar nie die minste ESKOM – die saaiboer is algeheel onder beheer. Alles beplan om ons samelewing in duie te laat stort – Kisinger “He who controls the food controls the people” . Indien jy die ekonomie ondersteun en mense se standaard verhoog begin hul self omgee vir die omgewing – maar dit is sekerlik nie wat die diaboliese magte beplan nie.

Groen Ghoen ·

Baie waar, Chris. Die spul maak geen sin nie: Plante gebruik CO2, water en sonlig om voedsel te produseer. Sonder CO2 in die atmosfeer is lewe onmoontlik. Gelukkig is die briljante Joseph R. Biden en die bekwame Sukkelry Ramapromises in beheer van die oefening. Niks kan verkeerd gaan nie.

Grond ·

SAAI verteenwoordig Suid Afrikaanse boere tans by COP27 in Sharm-El-Sheikh en nie AgriSA nie. Sê dit iets van die twee organisasies?

Goldy ·

Gaan julle dit keer dat skateyk boere met vliegtuie nampo toe vlieg, of is jy een van hulle jou stralejakker

Pieter9 ·

Daar is nie ‘n’ klimaat krisis’ nie. Hierdie bykans histerie is net nog ‘n wyse waarop veral die linkse groepe die Weste, ontwikkelde lande, gebruik om geld na’ nie-ontwikkelde ‘ lande te kanaliseer. En dan word China boonop ook as on-ontwikkelende ekonomie beskou. NGO’ s en korrupte politisie sal geldmaak, dit terwyl ons eintlike probleem Water is. SA se krisis is water nie klimaatsverandering nie. Daar is duisende behoudende wetenskaplikes wat die gekheid van die klimaatsveranderings-fobie empiries as dwaling uitwys.
Ons moet ons waterbronne beskerm en woongebiede, informeel en formeel, wegkry van rivieroewers en alle opvangsgebiede, riviere begin skoonkry, Myne ens op zero-besoedeling vlakke kry. Maar dit gebeur nie want dit is moeiliker aangesien dit onmiddelik en maklik meetbaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.