Aiden, Anrich onder WB se bestes

Anrich Nortjé het met sy vaart beïndruk. Foto: Indrarnil Mukherjee/AFP.

Die Proteas het nie vir die uitspeelwedstryde van die afgelope T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate gekwalifiseer nie, maar die Suid-Afrikaners het steeds vir ’n hele paar puik individuele vertonings gesorg.

Aiden Markram en Anrich Nortjé is deur die Internasionale Krieketraad (IKR) in hul span van die toernooi benoem.

Die 27-jarige Markram was saam met Rassie van der Dussen die Proteas se beste kolwers in die toernooi en hy het 162 lopies teen ’n treftempo van 145,94 geslaan.

Hy was op sy aanvallende beste in die Proteas se laaste wedstryd teen Engeland toe hy ses grenshoue in sy onoorwonne beurt van 52 gemoker het.

Die Titans-speler was ook die gom wat probeer het om die Proteas se beurt in hul eerste Super 12-kragmeting teen Australië aanmekaar te hou. Hy het 40 lopies teen die Aussies aangeteken; Kagiso Rabada se onoorwonne 19 was die tweede hoogste telling.

Nortjé het sy reputasie as een van die wêreld se voorste snelboulers gestand gedoen.

Hy het nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 11,55 laat spat, terwyl hy slegs 5,37 lopies per boulbeurt afgestaan het.

In die T20-wêreld waar dit links en regs sesse reën, is dit ongelooflik dat ’n bouler teen minder as ses lopies per boulbeurt geslaan word.

“Hy was een van die redes vir die Proteas se vier agtereenvolgende oorwinnings en hy het teen elke span waarteen hy gespeel het, ’n paaltjie geneem. Anrich was in alle waarskynlikheid die vinnigste bouler in die toernooi,” het die IKR gesê.

Span van die toernooi: David Warner (Australië), Jos Buttler (Engeland), Babar Azam (Pakistan), Charith Asalanka (Sri Lanka), Aiden Markram (Suid-Afrika), Moeen Ali (Engeland), Wanindu Hasaranga (Sri Lanka), Adam Zampa (Australië), Jos Hazlewood (Australië), Trent Boult (Nieu-Seeland) en Anrich Nortjé (Suid-Afrika).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.