Anna Davel bied gratis aanlyn kinderreeks, konsert

Anna Davel en Luke van der Merwe in Sitkamersessie (Foto: Verskaf)

Die bekende sangeres Anna Davel bied ʼn gratis aanlyn kinderreeks en konsert aan tydens die isolasietydperk.

Vir elke week van die isolasietydperk stel sy een episode van die kinderreeks Kloekkamer bekend.

“Ons hoofmotivering is om ma’s met kleuters te help om die kleintjies besig te hou met stories, liedjies en kreatiewe idees,” sê sy.

“Ons weet dat jong kinders baie energie het, en dat dit moeilik is vir ’n kind om te verstaan waarom hulle skielik heeltyd hande moet was, en nie by die bure se kinders kan gaan speel nie. So ons probeer op ’n speelse manier die virus-onderwerp aanraak, maar hoofsaaklik is die program se doel vermaak.

“So stories, liedjies, beweging, en ons kry ook gaste in om waar ook al hulle in isolasie is vir ons ʼn bydrae te lewer van hulle keuse.”

Schoemé Grobler van Puppetrix vertolk die rol van Trix, haar poppekarakter, en is die anker-aanbieder van die program. In die eerste episode van Kloekkamer is die uitdaging om ’n pophuis te bou van meubels, kussings en linne.

Lapa-uitgewers het ook toegestem dat hulle van hul boeke kan voorlees vir die kleinspan.

Schoemé Grobler vertolk die rol van Trix (Foto: Verskaf)

“Ons kry tans geen vergoeding daarvoor nie, maar ons hoop om later van tyd, nadat die inperking verby is, Kloekkamer in ’n professionele ateljee te kan opneem. Lapa se kinderboeke is baie gewild, en kinders is mal daaroor. Ek het ook twee albums vervaardig vir Lapa, en van die musiek is ook deel van Kloekkamer,” vertel Davel.

Davel het ook reeds ʼn aanlyn vertoning op YouTube beskikbaar gestel wat haar vertonings vervang wat by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied sou word.

Davel sou vanjaar drie verskillende produksies by die KKNK hê, maar met die uitbreking van die Covid-19-pandemie is hierdie kunstefees gekanselleer. Sy sê dit is vir haar baie moeilik aangesien dit in alle opsigte ʼn hoogtepunt van haar jaar sou wees.

“Wat regtig ’n fees van hoogtepunte vir my sou wees, en waarvoor ons almal al maande werk, beplan, en na uitgesien het, is in ’n oogwink net weg. Soveel mense in die bedryf is afhanklik van daardie fees, en veral die akteurs wat al maande oefen aan hulle toneelstukke, sou die feesinkomste soos ’n buffer gewees het gedurende die stiller wintermaande. So dit bly maar ʼn groot verlies,” sê sy.

Sy vermoed dat teaters en sportbyeenkomste steeds nie toegelaat sal word selfs ná die tydperk van inperking verby is nie, omdat die risiko net te groot is. “Daarom sal mense kreatief moet wees oor hoe jy jou loopbaan kan vernuwe en alternatiewe kan kry om by die teaterliefhebbers uit te kan kom.”

Anna Davel in Sitkamersessie (Foto: Verskaf)

Davel het haar vertoning Sitkamersessie opgeneem die naweek voor die inperking begin het. Sy vertel dat sy dit aanvanklik net vir mense wou e-pos wat kaartjies na haar KKNK-vertonings gekoop het, maar het later besluit om dit vir almal op YouTube beskikbaar te stel.

“Ek het gedink: ‘Waarom nie [die vertoning vir almal beskikbaarstel nie]?’ Ons is almal saam in hierdie ding, en ek geniet al my kollegas se konserte en inisiatiewe in hierdie tyd. So mense kan een of twee stories verwag, die atmosfeer is intiem en persoonlik, en ek sing van my eie musiek en ook musiek wat relevant is tot hierdie oomblik,” sê sy.

Davel sê dit is vir haar belangrik om gedurende hierdie tyd mense te vermaak omdat sy besef het dat musiek nie net haar werk is nie, maar ook haar verantwoordelikheid.

“Ek het nie die gawe van musiek en sang ontvang net om te skep nie. Musiek is die een ding wat mense se harte kan raak, wat mense kan wegvoer uit hulle omstandighede en hulle kan raak, oor afstand en tyd.

“So ek maak hierdie aanlyn konsert en programme omdat ek hoopvol wil bly. Om te skep laat my voel asof ek proaktief iets doen. Al is daar net een mens wie se dag beter is omdat hy of sy bietjie kon ontsnap van al die slegte nuus en onsekerheid, dan is dit die moeite werd.”

Klik hier om Kloekkamer te kyk.

Klik hier om Sitkamersessie te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.