Bedrog in Gauteng: ‘Maak alle Covid-19-kontrakte nóú bekend’

Bandile Masuku (Foto: Bhekikhaya Mabaso African News Agency)

Die DA het Dinsdag ʼn beroep op dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gedoen om dringend al die name van maatskappye en hul direkteure bekend te maak wat sedert die begin van die Covid-19-pandemie kontrakte met die onderskeie provinsiale departemente van gesondheid gesluit het.

Dít volg nadat bewerings oor onreëlmatige tenders in die Gautengse departement van gesondheid onlangs die lig gesien het. Bandile Masuku, die Gautengse LUR van gesondheid, hou egter voet by stuk dat dié bewerings vals en ongegrond is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn ondersoek na twee tenders van die Gautengse departement van gesondheid is onlangs van stapel gestuur. Die tenders, wat later gekanselleer is, was vir die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) aan Royal Bhaka Projects. Die man van Khusela Diko, woordvoerder van die president, is ʼn direkteur van dié maatskappy. Diko is ook ʼn lid van die Gautengse provinsiale uitvoerende komitee en is Dinsdag op spesiale verlof geplaas oor dié bewerings en het tydelik haar pligte in die parlement oorgegee.

Sunday Independent het verlede week onthul dat Madzikane Diko se maatskappy ʼn PPE-tender ter waarde van R2,2 miljard ontvang het; deel van ʼn tender wat aan 75 maatskappye toegeken is. Royal Bhaka Projects het kontrakte ter waarde van R47 miljoen en R78 miljoen ontvang.

Die pryse vir die toerusting wat Diko se maatskappy verskaf het, is onreëlmatig verhoog.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Masuku se vrou goeie vriendinne is met een van die vroue van die Amabhaca-koningshuis en dat hulle selfs bruidsmeisies op mekaar se troues was.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) in Gauteng het nou gevra dat Bandile Masuku “opsy staan” terwyl wetstoepassingsagentskappe, waaronder die spesiale ondersoekeenheid (SOE), 90 ondernemings ondersoek wat moontlik betrokke is by beweerde onreëlmatighede.

Nou versoek die DA dat die minister van gesondheid al die maatskappye en hul rade van direkteure bekend maak wat kontrakte van die provinsiale departemente van gesondheid in al nege provinsies ontvang het. Volgens Siviwe Gwarube, DA-LP en dié party se woordvoerder vir gesondheid, is dit dringend dat die kontrakte bekend gemaak moet word ten einde deursigtigheid te bewerkstellig.

“Sodra hierdie inligting bekend gemaak word, sal ons ondersoek instel om te verseker dat politiek verbonde individue nie die belangrikste begunstigdes van hierdie kontrakte was nie en dat hierdie dienste in werklikheid in die provinsies gelewer word,” sê Gwarube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Magda ·

DA – dink julle dit gaan ooit gedoen of gegee word – ANC (ALL NATIONAL CRIMINALS)

Eltan ·

Ons almal weet al lank terug wat die uitkoms van die ondersoek sal wees…selfde storie oor en oor…

JohanR ·

Waar sien jy nie ANC bedrog nie? Noem dit ANC-19 siekte, en daar is nie ‘n entstof nie, en sal ook nooit wees nie!

Elize ·

Klomp paranas. Verskeur en vreet alles op wat in die pad kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.