Bedrogsaak oor omstrede behuisingsprojek dan in hof

Die Talana- tydelike behuisingsprojek het skerp kritiek ontlok. (Foto: Verskaf)

Die verhoor van die ses beskuldigdes wat van bedrog ter waarde van miljoene rande rakende ʼn tydelike behuisingsprojek in Limpopo aangekla word, sal op 24 Junie in die handelshof in Polokwane begin.

Vervalste dokumente is destyds ingedien om ʼn tender van R15,3 miljoen vir die bou van sinkhuise in Tzaneen as deel van die provinsiale regering se Talana-behuisingsprojek te verkry.

Die ses beskuldigdes, Constance Mohlala, Raymond Makoto Nkwane, Thobamotse Jeremiah Makofane, Simphiwe Nolwethemba Maphisa, Tsokollo Pacanin Monareng en Lerato Pearl Dikhutso, is tans op borgtog vry nadat hulle vroeër op drie aanklagte van bedrog, korrupsie en vervalsing in die hof verskyn het.

Die beskuldigdes is in Desember 2020 in hegtenis geneem. Mohlala is borgtog van R20 000 toegestaan, ​​terwyl die ander beskuldigdes op borgtog van R10 000 elk vrygelaat is.

Luidens ʼn verklaring deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die verdagtes die tender op bedrieglike wyses bekom – onder meer deur wanvoorstellings en vervalste dokumente van landmeters en argitekte. Hulle het na bewering meer as R2 miljoen uit R15 miljoen geëis wat vir die bou van 192 sinkhuise en 53 toilette gebruik sou word.

Die verdagtes het na bewering ingestem dat die maatskappy Aventino Group CC behuisingseenhede sou oprig sonder om die geldigheid van die dokumente wat ingedien is deeglik na te gaan. Daar word verder beweer dat die tydelike wooneenhede nie aan die ontwerp en spesifikasies voldoen nie.

Dié projek het destyds skerp kritiek uit talle oorde ontlok nadat Stan Mathabatha, premier van Limpopo, einde Julie die 40 sinkhuise, wat glo meer as R60 000 elk gekos het, in Talana by Tzaneen oorhandig het.

Talle ondersoeke na die behuisingsprojek is hierna van stapel gestuur met die DA wat onder meer ʼn klag by die Openbare Beskermer (OB) ingedien het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

007 ·

Ek sien al die aangeklaagdes is alweer kaders van die ANC. Die klomp het net eenvoudig geen einde nie.

marius ·

Daar is geen einde aan die skelms nie . Daar sal ook nie wees nie . Punt .

Madz ·

….Die beskuldigdes is in Desember 2020 in hegtenis geneem…. MIS ek iets iewers? Hoekom neem al die “omstrede” korrupsie/diefstal/moorde/aanrandings/regs-aksies altyd jaaaaare voor dit afgehandel word maar boeta laat daar nou net ‘n ander kleur gekoppel word aan ‘n soortgelyke saak – dan lyk dit soos kulkuns so vinnig word die persoon gevonnis!!

Papsak ·

Ja nee. Verstaan al hierdie probleme is die ANC hulle sit agter alles

Jakes ·

Africa’s National Criminals. Vrot van bo tot onder. Hoe is dit moontlik dat hierdie lot n land kan regeer?

Janine ·

Want die land is op ‘n goue skikbord vir hulle gegee…..

Swerwer ·

Ja nee so sal dit wees. Kyk maar net na die name, dit verduidelik alles.

Janine ·

anc/eff/blm….kan NIKS opbou nie. Kry die lot nie skaam vir hul eie nasie nie???

Kleintjie ·

ek kom agter hulle het by R15 miljoen vas gehak, want alle projekte wat hulle doen is R15 miljoen selfs die 2 standbeelde van nou die dag is R15 miljoen. so hulle vat dan R15miljoen.nie minder of meer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.