Ons was laat in 2020 saam met BMW vir die bekendstelling van sy omstrede nuwe 4-reeks. Daar is by die internasionale bekendstelling behoorlik op sosiale media uitgevaar oor hoe lelik die voertuig is. Ek sal hier erken dat die nuwe 4-reeks vir my glad nie lelik is nie. In lewende lywe is dit eintlik regtig mooi. Já – die nommerplaat kon kant toe skuif soos op die ouer Alfa 159, maar die kar is glad nie so lelik soos daar voorgehou word nie.
BMW se ontwerpers het oor die jare heen elke dan en wan die publiek met ʼn rigtingsveranderende ontwerp geskok. Dink spesifiek aan die Bangle-era… mense het tóé ook gedink elke nuwe BMW is lelik. Die nuwe 4-reeks is pure BMW-koepee. Soos met die buite-ontwerp bly die binneruim getrou aan BMW se kenmerkende ontwerp en algehele gevoel van puik gehalte.
Ons het by die bekendstelling twee modelle onder hande gehad. Die fantastiese M440i met sy puik 275 kW/ 500 Nm turboaangejaagde inlyn-sessilinder enjin. 0 – 100 km/h neem ʼn blitsige 4,5 sekondes, waarskynlik te danke aan BMW se xDrive-vierwielaandrywingstelsel. Die ander model wat by die bekendstelling beproef is – is die 420d. BMW se 2,0 viersilinderturbodieselenjin is briljant. Dit bied 140 kW en 400 Nm en loop seepglad. Vir ʼn dieselenjin is versneller-reaksie blitsig – en hy sal 100 km/h haal in ʼn ratse 7,2 sekondes.
Die hele reeks is met BMW se indrukwekkende 8-spoed wringkragomsitter-outo toegerus. Die 20i en 20d stoot krag na die agterwiele, en die 40i na al vier wiele. Padhouvermoë is regtig indrukwekkend op die 40i en vastrap soos ʼn mens uit ʼn draai versnel is verstommend goed – te danke aan die xDrive-vierwielaandrywing. Ritgehalte soos met meeste nuwe Duitse voertuie kan beslis beter wees. Die rit is hard, maar dit is ʼn moeilike balans tussen padhouvermoë en rygemak.
Dit is maklik om die BMW 4-reeks op te som. Dit is ʼn mooi ontwerp, en bied die eksklusiwiteit wat party 3-reeks kopers soek om hulle van die res te onderskei. Dit is geen geheim dat ek ʼn groot BMW liefhebber is nie, maar pryse raak nou wild. Dit is nie nét BMW nie – maar alle handelsmerke, regoor die wêreld, en Covid-19 doen ons geen gunsies nie. R800 000 voel vir my kwaai vir ʼn 2.0, en die M2 Competition is goedkoper as die M440i, ook ʼn koepee – net ʼn ware M-voertuig… en dít bly my keuse.
Die reeks lyk só:
BMW 420i | 135 kW/ 300 Nm | 6,4 ℓ/ 100 km | R796 438 |
BMW 420d | 140 kW/ 400 Nm | 4,8 ℓ/ 100 km | R843 516 |
BMW M440i xDrive | 275 kW/ 500 Nm | 7,8 ℓ/ 100 km | R1 238 854 |
Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.
Ons sal weer tyd met die 4-reeks deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk.