Boek van die maand: ‘Aanspreeklikheid’ deur Jaco Fouché

Soos die hel sou ʼn mens distopie kon sien – soos die WAT dit inderdaad definieer – “as ʼn denkbeeldige plek waar omstandighede ellendig en mense oorwegend ongelukkig en bang is”. En soos hel lê distopie as denkbeeldige plek gewoonlik in die toekoms. Die hede kan trekke daarvan hê, maar van die volle lading van distopie is ons hier en nou nog gespaar. So meen ons.

Van dié vermeende troos beroof Jaco Fouché ʼn mens in Aanspreeklikheid, sy roman wat in 2018 naaswenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd was en vroeër vanjaar verskyn het. ʼn Boek wat op die agterplat beskryf word as “ʼn fassinerende ondersoek na aandadigheid en die waarhede wat ʼn mens jouself kan wysmaak”.

As ʼn mens jouself wil wysmaak dat boosheid ver verwyderd is, ondergrawe Fouché in dié roman waarin die (denkbeeldige) karakter Jaco Diehl aan die woord is, dié “waarheid”.

Diehl is ʼn middeljarige wit man wat in Sandbaai sit en werk aan ʼn manuskrip met heelwat navorsing oor Joseph Fouché, die Fransman wat minister van polisie was tydens Napoleon se bewind, en wat ná die onderdrukking van ʼn opstand in Lyon die bynaam “slagter van Lyon” gekry het. Wat die leser van Diehl opval is dat hy homself eenkant hou; dat hy ʼn goeie waarnemer is (hy is immers ʼn skrywer); dat hy homself nie aldag vertrou nie (en dalk ook nie deur die leser vertrou moet word nie); dat hy skuil agter gladdebekpraatjies; dat hy ʼn rekenaaragtergrond het en dat hy nie heeltemal onkundig in die gevegskuns is nie. Daarby het Diehl ʼn dienspligervaring in sy verlede. Iets van “krygerstatus” (98). Soos dié van talle wit middeljarige mans.

Dat distopie nie iets van die toekoms is nie, maar hier en nou manifesteer blyk onder meer uit ʼn gewaarwording soos dié wat Diehl op ʼn trein het: “Warm, warm lug warrel in deur die oop vensters. Mense praat. Ek is te tam om die stemme van mekaar te onderskei. Waterbeperkings. Boetes. Die damme is aan die opdroog. Binnekort ʼn staking. Nog treinwaens aan die brand gesteek. ʼn Vrou se dogter wil skei van haar man wat haar telkens aanrand. Iemand se broer is in ʼn motorongeluk dood. Iemand is vermoor. Die dossier is weg. Die polisie is oorwerk, misdaad, korrupsie seëvier” (187). Dit is egter ʼn weggooisin soos dié wat die leser oortuig distopie is hier: “ʼn Kind rem huilend aan die hand van sy ma of ontvoerder.”

Só naby het die boosheid gekom.

Hoewel daar vroeër al verwysings is na vuur (Diehl word op bladsy 93 al beskryf as “ʼn man tussen vure”; die temperatuur loop deurgaans hoog in die roman – deels as gevolg van klimaatsverandering; daar is op bladsy 168 is ʼn brandweer wat vinnig verbykom en spanning opjaag; Diehl hoor op bladsy 135/6 “Rivierdal” as Vuurdal” – “Ek het vuur in my gedagtes: vlamme wat sierlik krul en dans en byt en kou…”) beskryf Diehl homself op bladsy 119 die eerste keer as afgedwaalde duiwel” wat deur ʼn helheks tot orde geroep moet word, en op bladsy 125 identifiseer hy met “die eenkantheid” wat die Satan opgelê is, soos vir Diehl.

“Wat de hel gaan met julle aan?”, die retoriese vraag van die man in uniform teen die einde van die boek, is soveel meer as net ʼn vraag met ʼn kragwoord.

Die tamheid wat Diehl op die trein ervaar (soos hierbo aangehaal) lei hom tot die besef: “Die kennis wat ek sal opdoen, sal my met verpligting opsaal. Aanspreeklikheid.” Die einste groeiende moegheid lei daartoe dat hy sy manuskrip, Joseph Fouché en les bes ʼn poging tot singewing vaarwel roep. “Miskien is boeke skryf ʼn jong man se spel” (141) is die gevolgtrekking waartoe hy kom.

Binne die konteks van Diehl wat getuie word van ʼn poging tot moord op sy buurvrou, ʼn voorval wat ander dade van geweld inlei, verken Jaco Fouché in dié speurroman aspekte van aandadigheid – individueel en kollektief, aanspreeklikheid en hoe ʼn mens lewe in ʼn land soos dié.

Jaco Fouché se Aanspreeklikheid resoneer op soveel vlakke met boeke wat in die jongste tyd verskyn het soos Die troebel tyd van Ingrid Winterbach en ʼn Land sonder voëls van Harry Kalmer.

Benewens dieselfde voornaam het Jaco Diehl en Jaco Fouché elkeen nege boeke op die rak (Fouché se debuut was in 1996 met Die ryk van die rawe). Maar anders as die denkbeeldige Diehl de denkbeeldige boeke verdien Fouché ʼn soveel groter leserskap. En erkenning.

Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R285.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.