ʼn Boot met 20 persone aan boord het tussen die Bahamas en Florida verdwyn, het die Amerikaanse Kuswag Saterdag gesê, ʼn dag ná ʼn onsuksesvolle drie dag lange soektog afgelas is.
Die boot, wat Maandag van Bimini-eiland vertrek het, was op pad na Lake Worth in Florida, sowat 130 km daarvandaan.
Die Kuswag is Dinsdag in kennis gestel dat die boot nooit opgedaag het nie, aldus ʼn verklaring.
Spanne van albei lande het die volgende drie dae lank ʼn gesamentlike lug- en maritieme soektog uitgevoer oor sowat 44 000 km², maar die soektog is Vrydag afgelas.
“Ons dink aan en bid vir die families van die persone wat verdwyn het,” het kapt. Stephen Burdian, gesê. Hy maan enigiemand met inligting oor die vermiste boot om die Kuswag te kontak.