Brandstof daal April dalk beduidend

(Foto: Brett_Hondow/Pixabay)

Die rand se verswakking teen die Amerikaanse dollar het eintlik in die niet verdwyn danksy die enorme daling in internasionale petroleumpryse – en dít dek die tafel vir ʼn groot daling in brandstofpryse aan die einde van die maand.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê huidige data wys petrol kan met R1,11/ℓ daal, diesel met R1,10/ℓ en paraffien met R1,18. Die dalings moet egter gesien word teen die agtergrond van die 25c-styging in die brandstofheffing wat die minister van finansies vroeër aangekondig het.

Die heffing tree in April in werking.

Wanneer die vooruitskatting dié heffing in ag neem, is die voorspelling dat petrol met 86c/ℓ en diesel met 85c/ℓ kan daal. Die heffing het nie ʼn uitwerking op die prys van paraffien nie.

“Terwyl Covid-19 wêreldwyd versprei, het finansiële markte getuimel en veilige hawens is vir kapitaal gesoek. Die rand het weens dié neiging beduidend teen die dollar verswak,” het die AA gesê.

“Dit het gepaardgegaan met Saoedi-Arabië se besluit om van Opul [die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande] weg te breek. Nie net het Saoedi-Arabië sy oliepryse laat sak nie, hy het produksie ook aansienlik verhoog.”

Die AA sê Saoedi-Arabië se besluit kom te midde van ʼn afname in die wêreldwye vraag na olie. Covid-19 het nywerhede en handel swaar getref en tot die skerp daling in die prys van olie bygedra.

“Die laaste keer dat die olieprys so skielik gedaal het, was tydens die Golfoorlog bykans 30 jaar gelede. Die daling is wel goeie nuus vir Suid-Afrikaners.”

Die AA sê ook hy glo nie dit is die laaste daling nie. “Daar is geen aanduiding wat die uiteindelike uitwerking van die verspreiding van Covid-19 gaan wees en niemand weet waar die rand teen die dollar gaan stabiliseer nie.

“Jy kan ook nie voorspel hoe lank die Saoedi’s bereid is om in die olieprysoorlog vas te byt nie – hulle oliebedryf kan glo winsgewend bly op beduidend laer pryse per vat as die huidige vlak.”

Die AA sê hy voorspel nog heelwat onbestendigheid – maar dit kan ook oor die volgende paar maande ten minste vir verligting by jou plaaslike vulstasie sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

david ·

Ek sou graag wou weet waarvoor ELKE SENT in hierdie heffings gebruik word.
As mens in ag neem dat alle stygings in die brandstofprys ‘n newe effek het op pryse van produkte, en dat die 15% verkoopsbelasting ook daaruit voordeel trek, laat dit mens wonder hoe diep die regering in sy burgers se sakke wil delf..!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.