Brood, meel, vis nou duurder

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Verbruikersinflasie het tussen Januarie en Februarie onveranderd (5,7%) gebly, maar die verbruikersprysindeks (VPI) het gedurende dié tydperk met 0,6% gestyg.

Stygende kos- en vervoerpryse het grootliks daartoe bygedra, sê Statistieke Suid-Afrika (StatsSA).

Les opsê by die supermark

StatsSA se syfers toon dat jaarlikse inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies in Februarie weer gestyg het – dié keer tot 6,4%, van 5,7% in Januarie en 5,5% in Desember.

Die prys van brood en graanprodukte het van 1,5% in Januarie tot 3,7% in Februarie gestyg nadat dit agt maande lank bestendig gedaal het.

Die prys van witbrood en mieliemeel het verlede maand veral opgeskiet – onderskeidelik 3,2% en 3,7%. Dit beteken dat witbrood in Februarie gemiddeld 69c duurder as in Januarie was.

Ander produkte wat prysstygings beleef het, sluit in klaargemaakte meel en koekmeel (albei 4,7%), pasta (4,1%) en pap en macaroni (albei 2,9%). Die prys van bruinbrood het met 2,5% gestyg.

Jou vis-en-tjips-gereg het dalk ook duurder geword.

Die prys van vis het tussen Januarie en Februarie met 2,3% gestyg. Geblikte vis (tuna uitgesluit) en bevrore visvingers het die grootste maandelikse verhogings in dié voedselkategorie aangeteken.

Les opsê by die petrolpomp

(Foto: Christel Cornelissen)

Brandstofpryse het in Februarie met 2,9% gestyg. Die prys van binnelandse 95-oktaan‑petrol het vanaf Januarie tot Februarie met 53c tot R20,14 per liter geklim. Dit is net minder as die rekordhoogtepunt van R20,29 wat die petrolprys in Desember bereik het.

Suid-Afrikaners wat van openbare vervoer gebruik maak, het ook les opgesê. Die huur van ’n motor het met 15% gestyg terwyl lugtariewe met 7,3% geklim het.

Duurder besoeke aan die spreekkamer

StatsSA doen elke Februarie ’n jaarlikse opname van dokter- en tandartstariewe in die private sektor. Gesondheidspryse het in die twaalf maande tot Februarie met 4,9% gestyg. Die prys van algemene praktisyns het met 5,6% gestyg terwyl ginekoloë en dokters se tariewe met 4,5%, en tandartse sʼn met 4,7% gestyg het.

Die versekeringskategorie het ’n maandelikse verandering van 1,3% aangemeld, hoofsaaklik weens ’n toename in gesondheidsversekering (1,8%). Nie alle gesondheidsversekeringsmaatskappye het egter hul pryse gedurende Februarie verander nie, sê StatsSA.

  • Die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne blyk geen invloed op dié syfers te gehad het nie aangesien Russiese magte Oekraïne eers op 24 Februarie ingeval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

piet ·

Vis is duurder as rooivleis. Dis ‘n skande veral vir ons hier naby die viswaters. Iemand maak ‘n killing in daai industrie. Dit gaan so nadat net sekeres viskwotas gekry het. Die dae wat jy goedkoper vis by die ou gekoop het wat met sy klein boot uitgegegaan het, is lyk my verby.

Kobus ·

Nou kan jy raai wat ons vir vis hier in die binneland betaal. Onbekostigbaar

Ronel ·

Lees weer, opname gedoen voor Poetin Rusland binne geval het

domheks ·

Pap en tik ons voorland! Alle vleis produkte is BAIE duur. So ons sal maar net die vleisie so teen die pap druk vir die smaak!

Kobus ·

Die oorlog gaan al die winkels nou soos ‘n handskoen pas. Wanneer dit verby is gaan daar verseker geen prysverlaging kom nie

Julius ·

Ons betaal reeds R21. 79 per liter vir 95 oktaan in die noordkaap. Word ons dan ingedoen hier?

Mariana ·

Maar so is ons mos gewaarsku. Seker hoekom Ramapoza sê die ekonomie verbeter. Ja vir almal behalwe die verbruiker en die oorlog het niks met dit te doen nie. Dit is maar net nog ‘n manier om ons te verarm. Glo my Ramapoza en sy ministers en ander kaders het nie die soort probleme nie. Hulle lewe soos konings op hul salarisse en als wat hulle verniet kry. Armes gaan net nog armer raak.

Papsak ·

Ja en so weet die anc net hoe om hierdie land te verarm ons nie almal werke en ryk nie en ja die anc se sakke word voller by die dag ons gaan almal nog van hongerte sterf

Pietertjie ·

Alles word van brandstof gemaak, en uit Oekraïne ingevoer.

Zollie ·

Ek het ook verlede week gevra of ons dan nou alles van Oekraine af kry.

Duck ·

Hier by ons in die Kaap (Noordelike voorstede) is varkvleis darm nog bekostigbaar. Hoender was die goedkoopste, maar nie meer nie, moet tog nie eens van “stewing beef en beef mince” praat nie. Nee wat, wet van Transvaal is aan die order van die dag vir ons.

KatjieDeKat ·

Ja as dit nie vir vark was nie, het ek seker al vergeet hoe vleis smaak!

Retha ·

Nou moet ons nog versigtig wees vir varkvleis met varkgriep wat oral uitslaan

Wondermaarnet ·

ALLES is duurder. Ek wou suiker koop maar gaan nie R53 betaal vir ‘n 2kg nie en bly daarsonder.

Nico ·

Wanneer die petrol prys styg, styg die voedsel pryse maar! wanneer die petrol prys daal, daal die voedsel pryse nie, hoekom, die middelman pluk die vrugte.

Swerwer ·

Armmoede en hongesnood staar landsburger in die gesig, wie het ons te dank, die ANC Kader.

Mad Mike die Rhodesiër ·

BETAAL is die wet van Transvaal. En deesdae kos alles jou ‘n arm of ‘n been of selfs jou kop! Mense wat staatstoelaae ontvang, trek veral aan die agterent. Ons het ‘n R90 verhoging gekry, maar kruideniersware kos jou R900 meer!

Retha ·

Ja die graaf lêer in die Munisipaliteit kry minimum van oor die R3000 per maand en dan “demand” hul ook nog vir ekstra persentasie verhoging , maar ons arme pensionarisse kan nêrens “demand” nie, moet maar tevrede wees met R10 vehoging nou en Oktober weer R10

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.