‘Brooklyn Nine-Nine’-akteur sterf

André Braugher, bekend vir sy rol in “Brooklyn Nine-Nine”, het gesterf. (Foto: Brooklyn Nine-Nine/Instagram)

André Braugher, bekend vir sy rol as Captain Raymond Holt in die humoristiese TV-reeks Brooklyn Nine-Nine is vroeër die week dood. Hy was 61 jaar oud.

Jennifer Allen, ʼn verteenwoordiger van Braugher, het bevestig dat hy op Maandag 11 Desember ná ʼn kort siekbed dood is. Die presiese oorsaak van sy dood is nie bekend nie.

Braugher het in sy loopbaan, wat oor dekades strek, in verskeie rolprente en TV-reekse opgetree. Hy was veral bekend vir sy rol in die misdaadreeks Homicide: Life on the Street, waarmee hy ʼn Emmy in 1998 verwerf het.

Hy het sy tweede Emmy in 2006 ontvang vir sy rol in die minireeks Thief. Hy was ook in flieks soos Glory, Spike Lee’s Get on the Bus, Primal Fear en City of Angels te sien.

Hy het in 2013 na ʼn fiktiewe polisiekantoor teruggekeer in sy rol in die treffer-komediereeks Brooklyn Nine-Nine. In dié reeks, wat oor agt seisoene gestrek het en in 2021 tot ʼn einde gekom het, het Braugher onder meer teenoor Andy Samberg, Terry Crews en Stephanie Beatriz gespeel.

“Vir altyd ons Kaptein. Ons is lief vir jou, André,” lui die amptelike huldeblyk wat op Brooklyn Nine-Nine se Instagram-bladsy gedeel is.

Bykomende bronne: BBC, NPR, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.