Corolla in die kol

(Foto: Cornel van Heerden)

Ek onthou ʼn tyd, nie té lank gelede nie, toe Toyota se Corolla die verkose gesinsmotor vir vele huishoudings was.

Dit was in ʼn tyd net voor die aanslag van die sportnutsvoertuig en die dubbelkajuitbakkie. Ek was in die afgelope paar maande ʼn paar keer in die buiteland en dis opvallend hoe gewild die sedanmotor nog in Saoedi-Arabië is en die luikrug en stasiewa in Europa.

Toyota het die perfekte voertuig vir albei daardie markte, en ons s’n ook, dink ek. Die Toyota Corolla, maar spesifiek die hibriede model.

(Foto: Cornel van Heerden)

Die sedan het ʼn effens minder sportiewe stilering teenoor die luikrug, maar tog dieselfde hart. ʼn Vyfsitpleksedanmotor met ʼn enorme kattebak en ʼn hibridiese dryfstelsel.

Die sedan is effens goedkoper, en het ʼn laer spesifikasievlak. Die luikrug is gemik op die jonger meer modebewuste koper. Die luikrug lyk fantasties met sy 18 ”‑allooiwiele en sportsitplekke. Van agter die stuur is die digitale instrumente ook ʼn netjiese toevoeging.

(Foto: Cornel van Heerden)

Die jongste Toyota Corolla, in sedan sowel as luikrug, bied wel Toyota se volle veiligheidssuite – TSS (Toyota Safety Sense). Die stelsel werk puik en bied aanpasbare spoedkontrole, blindekolwaarskuwing met baandwaalwaarskuwing, agterkruisverkeerwaarskuwing én al die normale passiewe stelsels soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer, sowel as ʼn magdom lugsakke.

Die opgekikkerde Corollas geniet nou ʼn hoëresolusieraakskerm met nuwer sagteware as sy voorganger wat puik werk. Die luikrug se binneruim voel ook meer sportief as dié van die sedanmotor, te danke aan die sportsitplekke.

Onder die kap sit Toyota se atmosferiese 1.8-viersilinderpetrolenjin saam met ʼn elektriese motor, ʼn palwisseltransmissie en ʼn slim blikbrein om die hele affêre te beheer. Die hibried beheer hom geheel en al self. Hy hoef nie ingeprop te word nie – mens gooi letterlik net brandstof in. Die stelsel bied 103 kW en 142+e Nm. Al klink dit nie enorm nie, is die Corolla ʼn droom in die dorp én op die oop pad.

(Foto: Cornel van Heerden)

Brandstofverbruik is waar die hibriede Corolla sy troefkaarte wys. Ek het lag-lag 5,2 ℓ/100 km gehandhaaf op die gekombineerde siklus. Indien ek versigtig ry van die kantoor af tot by my huis, 22 km deur Pretoria se middestad, kon ek 2,7 ℓ/100 km haal. Dis verstommend.

Op die pad toer die sedan egter lekkerder as die luikrug. Dit is weens die sedan se kleiner 16 ”‑wiele teenoor die luikrug se 18 ”. Dis al. Ongelukkig is die toestand van ons paaie tans beroerd in Gauteng, maar tog het ek nie een pap band gekry nie, en ook nog nooit ʼn kar op sy pens gebêre op ʼn spoedhobbel nie, nie eens ʼn Porsche GT3 RS nie – so die hele argument van ʼn SNV vir grondvryhoogte indien jy nie bos toe gaan nie, is bog.

Ek sal die twee só opsom: Albei is puik voertuie, so te sê perfek. Daar is werklik nie een ding waarvan ek nie hou nie. Die twee sal om verskeie redes aanloklik wees, maar vir ʼn man met ʼn gesin is die sedan ʼn puik opsie. Sy kattebak is enorm. Indien dit nie die gesin se hoofmotor is nie, bied die luikrug ʼn pragtige, sportiewe buks wat nie vir pyn by die petrolpomp sorg nie.

Die reeks lyk só:

Toyota Corolla luikrug 1.8 Hybrid XS103 kW/142+e Nm4 ℓ/100 kmR500 700
Toyota Corolla sedan 1.8 Hybrid XS103 kW/142+e Nm3,9 ℓ/100 kmR512 700
Toyota Corolla sedan 2.0 XR126 kW/203 Nm5,9 ℓ/100 kmR527 400
Toyota Corolla luikrug 2.0 XR126 kW/203 Nm6 ℓ/100 kmR529 000
Toyota Corolla sedan 1.8 Hybrid XR103 kW/142+e Nm3,9 ℓ/100 kmR532 200
Toyota Corolla luikrug 1.8 Hybrid XR103 kW/142+e Nm4 ℓ/100 kmR539 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 6-dienste-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mazda 3 2.0 Astina121 kW/213 Nm6,3 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km‑waarborg en ‑diensplanR554 500
Nissan Qashqai 1.3T Visia96 kW/240 Nm6,4 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km‑waarborg

3 jaar/90 000 km‑diensplan

R568 200

Toe ek die mededingers bymekaar gaan maak, kom ek met ʼn skok agter dat daar amper geen C-segment-luikrug óf -sedanmotors oor is nie. Volkswagen het slegs ʼn GTI, nie ʼn gewone Golf nie, en ook nie meer ʼn Jetta nie, Ford se Focus is weg, om nie te praat nie van Peugeot se 308, Alfa se Giulietta, Kia se Cerato en só hou die lys aan. Dis ʼn jammerte want ʼn C-segment-luikrug óf ‑sedan is ʼn puik voertuig en was eens op ʼn tyd die staatmaker vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse gesin.

Die Mazda is die enigste werklike direkte mededinger, en het ook nie meer sy sedanboetie nie. Die Qashqai is ʼn C-segment‑mededinger, maar eintlik ʼn kruismodel. Dit is ook die goedkoopste intreemodel teen R570 000.

Toyota wen loshande met dié een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.