Deon Fourie: ‘Ek het Bok-droom amper vaarwel toegeroep’

Deon Fourie in aksie teen die Wallabies op Loftus Versfeld. (Foto: GB Jordaan)

Ná die eindfluitjie geblaas het, en Deon Fourie besef het dat die Springbokke weer Wêreldbekerwenners was, het hy sy kop in verligting op sy vrou se bors laat sak en bloot gesê: “Ek is moeg.”

Dié 37-jarige rugbyspeler het geskiedenis gemaak toe hy in 2022 die oudste rugbyspeler geword het om ʼn Springbokdebuut te maak. In alle eerlikheid, erken hy aan Maroela Media, het hy ʼn paar jaar gelede vas geglo dat dié droom hom nie meer beskore was nie.

“Toe ek destyds teruggekom het van Frankryk af, was dit nooit my doel om vir die Springbokke te speel nie,” vertel hy.

“Ek het daardie droom laat vaar toe ek oorsee gespeel het. Ek was gelukkig genoeg dat ek weer ʼn kontrak by die Stormers gekry het met my terugkoms Suid-Afrika toe, en daar was hierdie jong outjies wat my net weer lus gemaak het om rugby te speel.

“Ek het die spel by die dag meer en meer geniet.”

Toe Jacques Nienaber hom in 2022 bel om te sê dat hy oorweeg word vir die span wat teen Wallis gaan uitdraf tydens hul toer in Suid-Afrika, was dit asof ʼn vlam van hoop weer in sy hart begin brand het, want hier het hy met ʼn geleentheid van ʼn leeftyd gestaan.

’n Glimlaggende Deon vier die Springbokke se sesde drie teen Roemenië in Bordeaux. (Foto: Christophe Archambault/AFP)

Met dié oproep het Deon se pad na die 2023-Wêreldbeker begin. Hy sou 143 dae lank van sy vrou, Jean-Marie, sesjarige seuntjie, Jamie, en driejarige dogtertjie, Brinley, af weg wees en daarmee saam die manne saam met wie hy uiteindelik op die veld sou uitdraf op ʼn nuwe vlak leer ken. Dit is tog onafwendbaar, sê hy, iedereen in daardie span was daar met dieselfde doelwit voor oë.

Hy onthou hoe Rassie Erasmus ʼn harde gesprek met die span gehad het ná die eerste Wêreldbekerwedstryd.

“Kykers gaan dit in Chasing the Sun 2 sien, maar hy het mooi met ons gepraat om ons selfsug by die deur te los en te fokus op wat belangrik is.”

Hoewel dit vir hom moeilik was om sy vrou en spruite agter te laat, is dit vir hom heerlik wanneer hulle in sy arms in hardloop wanneer hulle mekaar uiteindelik weer sien. Hy beskryf dit as “spesiale oomblikke” wat hy met sy gesin deel.

Wanneer hy vandag terugdink aan die eindstryd teen die All Blacks, onthou hy veral die verligting wat hy gevoel het toe die wedstryd uiteindelik verby was.

Dié dag het heel onverwags verloop, die plan wat in die week bedink en deurgetrap is, het heeltemal platgeval die oomblik toe Bongi Mbonambi beseer is. Deon wat eintlik net ʼn plaasvervanger sou wees, het uiteindelik omtrent die hele wedstryd gespeel.

Deon, sy vrou Jean-Marie, seuntjie en dogtertjie. (Foto: Deon Fourie/Instagram)

“Omdat ons met ʼn 7-1-split gegaan het, het ons altyd net daardie een speler op die bank as ʼn agterspeler seerkry. Ons het in die week voor dit geoefen dat as dit sou gebeur, Kwagga Smit na die agterlyn sou skuif en ek in sy plek sou speel.

deon fourie bongi mbonambi

Deon Fourie en Bongi Mbonambi. (Foto: @Springboks/X/Twitter)

“Daardie plan het egter in die eerste minuut by die venster uitgevlieg. As mens nou terugdink aan hoe alles gebeur het, kan ek maar net dankbaar wees vir die geleentheid wat ek gekry het om daar te kon wees en so lank te kon speel. Dit was my eerste wedstryd teen Nieu-Seeland, en dit boonop in ʼn Wêreldbekereindstryd.

“Dit het alles so vinnig verbygegaan, ek het nie eens tyd gehad om behoorlik te besef wat gebeur het nie.”

Sy Stormer-hart klop sterk

Deon is in Pretoria gebore, maar het die eerste paar jaar van sy lewe in Rustenburg in Noordwes grootgeword. Sy gesin het egter ná sy gr. 1-jaar Polokwane toe verhuis, waar hy uiteindelik sy skoolloopbaan voltooi het.

“Elke skoolseun droom daaroor om professioneel rugby te speel, maar as mens realisties dink, is daar verskriklik baie rugbyspelers en ʼn baie klein persentasie van hulle word professionele spelers.

“Ek moet erken, ek het die Blou Bulle op skool ondersteun,” skerts hy, “maar vandag klop my hart net vir die WP.”

(Foto: Hansie Linde. )

Daarom is hy vandag nog dankbaar dat hy in matriek ʼn kontrak aangebied is om vir die WP te gaan speel. Hy het in 2006 vir die eerste keer in wit-en-blou uitgedraf tydens daardie jaar se Curriebeker. Hy beplan ook nie om gou daardie wit-en-blou af te skud nie.

“Ek hoop om ná my rugby-aftrede steeds in die WP se kanale te bly. Ek is al tussen 18 en 19 jaar hier, om al daardie ervaring weg te gooi sal sinneloos wees.”

  • Chasing the Sun 2 begin vanaand (24 Maart) om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.