Devon Hofmeyr geopereer ná beweerde onderonsie

Devon Hofmeyr en sy pa, Steve Hofmeyr (Foto: Devon Hofmeyr/Facebook)

Devon Hofmeyr, die sanger Steve Hofmeyr se seun, moet Maandag ʼn operasie ondergaan ná ʼn beweerde onderonsie Donderdagaand buite ʼn kuierplek in Pretoria.

Maroela Media verneem Devon is in ʼn hospitaal in Centurion opgeneem ná die voorval.

Armand Hofmeyr, Devon se broer, het aan Maroela Media bevestig Devon se kakebeen is afgeslaan en hy het ligte bloeding op die brein. “Hy moet môreoggend ʼn operasie ondergaan en ons sal daarna meer inligting hê.”

Noline Fourie, Devon se ma, het ook slegs bevestig dat hy môreoggend geopereer word, maar wou nie verdere inligting in hierdie stadium bekend maak nie.

Steve het Vrydag op Facebook gesê sy seun is in die waakeenheid van ʼn hospitaal en hy het ʼn foto van die vermeende aanvallers gedeel. “Hier is die makkers wat dit gedoen dit. Enige inligting. Dankie,” het hy by die foto geskryf.

Steve het Saterdag op Twitter almal bedank wat omgee. “Maar hy gaan hieruit MOET leer. Ek het ‘n vreeslose aktiviste nodig, maar vir aktivisme. Niks anders nie. Elders SAL hy nederig MOET leer bly. Sy aanvallers het egter oorboord gegaan.” (sic)

Steve kon nie vir verdere kommentaar bereik word nie.

Volgens berigte het die onderonsie Donderdagaand om 23:00 by ʼn kuierplek in Centurion, Platteland, gebeur.

Devon is die besturende direkteur van Atlas7, ʼn inisiatief wat hom toespits op veiligheidsopleiding teen plaasmoorde. Christo de Villiers, bedryfsdirekteur van Atlas7, het gesê hy sal Devon vanmiddag in die hospitaal besoek. Hy wou nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie. “Ons wil eers van al ons feite seker maak,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine van Hyussteen ·

Ek geniet Maroela media. En julle hou ons op datum met al die jongste nuus

PJC ·

Hierdie uiters geweldadige aanvalle op mense by klubs kan net nie geregverdig word nie. Baie jongmense het al hul lewens verloor as gevolg hiervan.

Nicie Jansen van Rensburg ·

Die blote feit dat sy Pa se hy moet hieruit leer se klaar daars is drie kante van die storie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.