Gedagte vir die dag: Dood en lewe

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. (Kolossense 2:13)

Vergifnis is ’n saak van lewe en dood. Letterlik. As ons nie by God vergifnis vir ons sonde kry nie, moet ons noodwendig die straf op ons sonde ontvang. En dit is die ewige dood. Hieroor moet tog geen twyfel bestaan nie. Jy kan dit nie bekostig nie. Die prys is net te hoog. Kom ons luister weer na die teksvers …

Ons is dood gebore! Dit klink vreemd en druis natuurlik teen al die beskikbare feite in. Die dokter sal bevestig dat ek lewe en waarskynlik blakend gesond is. Met die Bybelse stetoskoop op my hart word ’n ander storie vertel. Nee, sê die Bybel, jy is dood gebore. Jou sondige natuur het jou draadjie kort geknip. En afgesien van jou sondige natuur het jy self, onder die indruk dat jy springlewendig is, tot jou doodvonnis bygedra deur sonde op sonde te doen. Jy is dubbel met die dood gestraf.

Miskien neem ons die ewige dood nie ernstig genoeg op nie. Dit is ’n vae en onwerklike begrip. ’n Ewigheid buite God se genade, sonder sy liefde … Kan jy dit vir jouself voorstel? Maar die saak word radikaal omgekeer wanneer jy in Christus glo, jou aan Hom verbind asof jou lewe daarvan afhang (wat natuurlik waar is!). Wanneer jy in Christus glo, word jou sonde vergewe en word jy saam met Christus lewend gemaak. Wat beteken dit? Dit beteken dat jy deel verkry in Jesus se opstandingslewe – ’n lewe vir ewig in God se heerlike teenwoordigheid.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.