DRK bewys Weste moet anders kyk na Afrika

Argieffoto

Die Demokratiese Republiek van die Kongo is geografies die tweede grootste land in Afrika en die elfde grootste in die wêreld. Met ’n bevolking van tagtig miljoen mense het die DRK die sewentiende grootste bevolking ter wêreld. Die land is ryk aan minerale hulpbronne soos koper en diamante en meer as die helfte van die wêreld se kobaltreserwes word daar aangetref. Die land het volgens ’n Amerikaanse studie die potensiaal om genoeg hidroëlektrisiteit op te wek om in die hele Afrika-kontinent se kragbehoeftes te voorsien.

Volgens die Wêreldbank het die DRK die vierde hoogste persentasie inwoners van enige land in die wêreld wat onder die armoedelyn leef. In meer as die helfte van die land se 26 provinsies is rebellegroepe in ’n kleinskaalse oorlog met die regering gewikkel. Byna vier miljoen burgers is binnelands verplaaste vlugtelinge.

Die Kongo se probleme is nie nuut nie. Die vigspandemie het gedurende die eerste dekades van die twintigste eeu eers in die Kongo ’n houvas gekry voordat dit na die res van die wêreld versprei het. Ebola het ook sy herkoms in die reënwoude van die land. Die land het verlede jaar ’n uitbreking van onder meer geelkoors, cholera, Ebola en polio ervaar en in talle gevalle het hierdie siektes ook na buurlande versprei. Verlede maand is een ton heroïen wat in ’n Kongolese skip op pad na Europa was, onderskep. Die land word ook gereeld deur internasionale dwelmsmokkelaars as deurgang na Europa gebruik. Om te dink ’n arm Afrikaland hou nie nadelige gevolge vir die res van die wêreld in nie, spreek van ernstige naïwiteit.

Oor die afgelope vyftien jaar het Westerse lande meer as 37 miljard Amerikaanse dollar vir noodleningswerk in die DRK bestee. Die resultate van dié besteding is bykans afwesig terwyl armoede toeneem en die land se ekonomie stagneer. Die plaaslike geldeenheid stort tans in duie en die land se inflasiekoers staan op 50%.

Soos in talle Afrikalande is die kern van die land se uitdagings van ’n politieke aard. President Joseph Kabila het in 2001 aan bewind gekom nadat sy pa in ’n sluipmoordaanval dood is. In 2006 het hy ’n demokratiese verkiesing gewen en in 2011 ’n omstrede verkiesing wat geensins as vry en regverdig beskou kan word nie. Daar was veronderstel om verlede jaar weer ’n verkiesing in die DRK plaas te vind, maar Kabila het geweier dat so ’n verkiesing plaasvind. Nadat geweld uitgebreek het, het hy belowe dat die verkiesing vanjaar sal plaasvind. Dit het ook nie en gaan ook nie gebeur nie. President Jacob Zuma het Kabila onlangs gelukgewens met die wyse waarop hy die DRK regeer. Of dit Mugabe, Kabila of Al-Bashir is, Afrika hou van sy diktators.

Daar is min rede om te glo dat die DRK en ook talle ander Afrikalande oor die volgende paar jaar vreedsaam, ekonomies voorspoedig en meer demokraties sal raak. Diktators sal geïsoleer moet word en Afrika moet in plaas van gesus, eerder geskud word. Terwyl die Weste Afrika as ’n maatskaplike projek beskou, sal die Kabila’s aanhou om hul lande te plunder en hulself te verryk.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

So jammer dat Afrika deur politici so teen die walle van wanhoop in bestuur word waar dit in werklikheid die potensiaal het om as katalisator te dien vir ongekende wereldwye ekonomiese groei.

Johan Bisschoff ·

Afrika hipnotiseer die res van die wêreld met die kragtige dwelm “potensiaal”. Terwyl die wêreld hom laat lamlê en blind staar teen Afrika se potensiaal, maak kriminele en diktators (nie onderling uitsluitende terme nie) wat hulle wil. Wie ly? Die 99.9% van die bevolking wat nie deel van die (meestal korrupte) elite vorm nie. Tragies. TIA.

John ·

Kan ons nie probeer uitvind waarheen die miljarde verdwyn wat so in Afrika ingepomp was en word nie. Geld verdwyn tog nie sommer so nie, of loop dit ook weg na ‘n idilliese eiland soos die kouse in daai tv-advertensie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.