Eiers dalk skaars, maar uitkoms wink

Oor die korttermyn gaan eiers baie duur en skaars word, maar daar is ‘n uitkoms. (Foto: Du Preeez de Villiers)

Eiers op die winkelrakke word vinnig duurder – en op sommige plekke al hoe skaarser – met verbruikers wat hul vrae en bekommernisse hieroor op sosiale media deel. Rolspelers in die eierbedryf skryf die tekorte aan die heersende voëlgriep-uitbreking toe wat boere dwing om lêhenne in groot getalle van kant te maak.

Volgens die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging (Sapa) is daar net meer as 5 miljoen lêhenne van kant gemaak; dit verteenwoordig 20% van die nasionale trop. Daar is tans ʼn tekort aan eiers, maar aangesien 80% van die lêhenne steeds eiers produseer, sal die verskaffing van eiers nie opdroog nie.

Die twee stamme, H5 en H7, is uiters aansteeklik en ʼn boer in Gauteng het aan Maroela Media gesê hy weet presies wanneer een van sy hokke besmet is: dit was die dag toe ʼn vragmtor met slaghoenders verby sy plaas gery het.

Dit het ʼn wyle geduur voordat ʼn entstof vir gebruik goedgekeur kon word, maar dit lyk of sake nou tot ʼn punt kom.

Izaak Breitenbach, hoof van Sapa se braaikuikenafdeling, het aan Maroela Media gesê die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) het ingestem dat entstowwe vir die twee stamme ingevoer kan word. Dit sal tussen twee en ses maande duur voor dit ingespan kan word. Plaaslik word daar ook ʼn H7-entstof ontwikkel.

Soos die somer nader kom, word die uitbrekings ook minder en boere sal dan hul troppe weer begin aanvul.

Staat spring in

Thoko Didiza, die minister van DALRRD, poog om staatsamptenare en die hoenderbedryf rakende die krisis te laat saamwerk. Sy het die afgelope tyd met verskillende rolspelers in die pluimveebedryf vergader. Vroeër die week was dit kleinhandelaars se beurt, nadat sy verlede week met Sapa vergader het.

In die vergadering met die kleinhandelaars het Didiza hulle ingelig oor die inperkingsmaatreëls wat geneem is om die verspreiding van die siekte te beperk, asook moontlike oplossings om sulke uitbrekings op kort en medium termyn te bestuur. Dit sluit inentings in.

Dit is duidelik uitgelig dat die grootste uitdaging aan die eierproduksie se kant is, waar daar noemenswaardige tekorte in sommige streke van die land is.

Die minister het ook ingestem om permitte uit te reik vir die invoer van eiers.

Rakende braaikuikens ondersoek Didiza en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, sommige handelsinstrumente om die verskaffing van hoendervleis te vergemaklik.

Braaihoenders kom ligter daarvan af

Breitenbach sê voëlgriep beïnvloed nie braaikuikens regstreeks nie, maar wel die teelmateriaal, oftewel die lêhenne wat die eiers moet lê en uitbroei, sodat die dagoudkuikens aan produsente verskaf kan word wat die hoenders grootmaak om geslag te word.

“Ons het net meer as 2,5 miljoen teelhenne van kant gemaak en dit verteenwoordig ongeveer 30% van die nasionale trop. Vleisproduksie op kort termyn kan met 30% afneem weens die siekte en gevolglike slagtings. Daar sal dus ʼn tekort wees weens die uitwerking wat die virus nou het, maar die verskaffing van braaikuikens op lang termyn sal nie so ʼn groot probleem wees nie.

“Ons moet wel in gedagte hou dat braaikuikenpryse en -verbruik jaarliks tussen September en Desember styg.”

Hy sê gelukkig is daar twee alternatiewe bronne wat braaikuikens aan Suid-Afrika verskaf.

“Die faktore wat daartoe sal lei dat ons nie die volle uitwerking van die siekte en slagtings van teelhoenders voel nie, is dat die invoerders van hoendervleis van die geleentheid gebruik sal maak om meer in te voer.

“Die plaaslike braaikuikenbedryf is ook in die proses om meer as 11,5 miljoen bevrugte broeier-eiers met lugvrag in te voer. Dit sal uitgebroei word en die braaikuikens uitgegroei word om geslag word.”

Breitenbach waarsku egter dat teenstortingstariewe nie weer afgestel moet word soos wat tydens die inperkings gedoen is nie. Hoewel die regering probeer verseker het dat daar genoeg en goedkoop hoendervleis in Suid-Afrika beskikbaar is, het dit die plaaslike hoenderboere baie skade aangerig en die mark gedestabiliseer.

“Daar is genoeg hoendervleis in die wêreld wat reeds ingevoer word en die teenstortingstariewe sit nie invoere stop nie. Lande soos Brasilië, die VSA, Ierland, Spanje en Argentinië is oop en voer hoendervleis na ons uit.”

Breitenbach sê dit is wel moeilik om te voorspel wanneer die krisis verby sal wees.

“Dit sal afhang van wanneer die tempo van nuwe infeksies afneem en wanneer minder hoenders van kant gemaak word. Vroeë data dui daarop dat ons dalk op die piek is, maar die volgende paar weke sal belangrik wees om te bepaal of ons reg was.”

Die braaikuikenbedryf se gebeurlikheidsplan is om op biosekerheid te fokus om die siekte hok te slaan.

Hy sê die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, waar die H5-stam voorkom, word nie sodanig beïnvloed nie. Die probleem is in die groter Gauteng-gebied wat oorspoel na Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat, waar die H7-stam voorkom en steeds versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Willem ·

Graag wil ek net verstaan. Daar is ongeveer 20% minder lêhoenders en 30% minder braaikuikens. Dit is dus n heel bekende ekonomiese reel dat die prys sal styg. Voer vir lêhoenders is dis nou in surplus en die prys moet daal as die beginsel waar is maar dit daal nie? Kan dit wees omdat die voer mark deur dieselfde hoender en eier produsente beheer word? Ek dink dit is n interessante veskynsel vir die kompetisie komissie om na te kyk

Koos 100 ·

Sien vandag XL eiers 5 dosyn…. R210. Aartapels 10 kg….. R160. So dis twee stapel items amper R400.

George ·

jy kort nie 60 eiers nie. Mense wat alles gaan opkoop veroorsaak paniek en tekort, en so skiet die prys die hoogtes in.

M ·

Wonder watter Kader nou weer toestemming verleen is vir die Invoer vsn eiers ? … Ek hou my hoed vas… én gooi my hande hemelwaarts …

Nettie ·

Miljoene hoenders word van kant gemaak.
Skielik is rakke DOL-leeg, selfs al moes daar nog 80% gewees het.
Mense is paniekbevange en raak kwaad en dis ‘n krisis, want so baie dinge vereis eiers in die resep.

Dan word die oplossing gegee!
Toe maar…. ons sal vir julle eiers invoer en sommer ook ‘n klomp inentings. Groot geld.
So wie het die krisis veroorsaak?

Michael ·

Toe die regime mense wou inspuit met die gif was hulle vinnig, hoe is daar nou so gesukkel om goedkeuring te kry. Die goed word alles beheer

KaRoOkWaGgA ·

Die endstowwe is alles goed en wel, maar watse effek gaan dit op ons as verbruikers, se gesondheid hê? Ek het ongelukkig geen vertroue in enige iets wat na ‘n kitsoplossing lyk in Suid-Afrika nie, want iewers vorentoe gaan ons gesondheid daaronder lei.

Bolandse Nooi ·

Hier Kiepie, daar Kiepie, woerts! in die hoekie! Lyk my ek sal maar my vleis tanne moet trek … eers was supergraad 1 beesvleis (steaks) van die “menu’ af, toe volg lamsvleis in daai besies se spore, toe skaapvleis … en nou die hoene’tjies ok? Aggenee wat, lyk my ons knerts een van die dae soos propperse ‘full vegetarians’ net aan blaarslaai en boontjies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.