Eksamenvoorbereiding 101

 matriek-11_leer.jpg

Foto: pixabay.com

Deur Reon Janse van Rensburg

Dit is eksamentyd.  Jou eksamenrooster is voor jou teen die muur geplak, maar die datums beteken vir jou egter nog min. Voorbereiding is waaroor dit gaan, en hoewel al jou gesinslede wat eksamen skryf agter toe deure by hul lessenaars sit en studeer, het jy geen idee waar om te begin nie!

Hoe maak jy om te verseker dat jy voorbereid is vir die eksamen?

  1. Begin by die begin

Jy kort ´n studieprogram wat jou sal toelaat om genoeg tyd aan elke vak te spandeer. Wees realisties oor die hoeveelheid tyd wat jy beskikbaar het. Neem die hoeveelheid werk wat jy moet studeer in ag. Beplan jou leersessies sodat jy nie langer as 45 minute op ´n slag aaneen sit en studeer nie, en laat jou brein en liggaam dan toe om vir ten minste 15 minute te ontspan. Oorweeg ook watter tyd van die dag vir jou die beste gaan werk om by jou boeke te sit – dalk is jy ´n naguil of dalk hou jy daarvan om liefs vroeg op te staan en jou take vroeg in die dag aan te pak?

  1. Begin vroegtydig met hersiening

Om te beplan is maklik, maar dit is beslis moeiliker om jou beplanning uit te voer. Wees slim en begin eerder te vroeg hersien as wat jy te lank wag en dan alles op die laaste nippertjie moet doen. Dan sal jy vroegtydig agterkom indien daar werk is wat jy nie verstaan nie of onseker oor is, en dit sal jou genoeg tyd gee om met die betrokke onderwysers of ander personeel te gesels sodat jy die probleem spoedig kan oplos en jy steeds genoeg tyd het om die werk te leer.

  1. Skep ´n omgewing wat die leerproses bevorder

Jy benodig ´n ruimte waar daar nie dinge is wat jou aandag voortdurend van jou werk aflei nie. Sorg dat jy die nodige skryfbehoeftes byderhand het. Koop vir jou ´n nuwe notaboek en ´n pen wat maklik skryf. Sorg dat daar genoeg lig en vars lug in die vertrek is. Die stoel waarop jy sit, moet ook gemaklik sit en verseker dat jou rug die nodige ondersteuning kry – dit sal jou energievlakke langer laat hou!

  1. Bestuur stres

Dit is nie ongewoon om oor jou eksamen te stres nie, maar ons beklemtoon weer die belangrikheid van voorbereiding wat jou in ´n posisie sal plaas om rustig te raak omdat jy jou bes gedoen het om te verseker dat jy die beste resultate sal kry. Stres is egter ongesond en teenproduktief, want dit verhoed jou om te konsentreer. Die eindproduk is dat jy vergeet wat jy geleer het.

Jou dieet speel ook ´n rol in die leerproses. Jou liggaam kort sekere vitamine en minerale om jou brein in ´n gesonde toestand te hou. Omega 3 hou verband met jou brein se gesondheid en word gevind in seekos, veral visolie. Gelukkig hierdie voedingstof in ´n kapsulevorm beskikbaar en hoef jy nie skoon visolie af te sluk nie! Net so is slaap ook vir jou liggaam noodsaaklik om jou energievlakke te hernu. Die gemiddelde tiener het 8 tot 10 ure se slaap per nag nodig sodat hulle optimaal kan funksioneer. Dalk sal dit wys wees om saans vroeër in die bed te kom!

Die artikel het oorspronklik verskyn op Solidariteit-Jeug se webblad.

Bronne:
www.maroelamedia.co.za
https://www.wikihow.com/Make-a-Study-Timetable
https://sleepfoundation.org/sleep-topics/teens-and-sleep
https://www.vital.co.za/product/omega-3/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.