Gauteng-aanlynaansoeke open dan: ‘Afrikaanse ouers moet gou spring’

aanlynregistrasie-2019

Panyaza Lesufi, (middel) Gautengse LUR vir onderwys, het Donderdag bevestig die aanlynaansoeke vir 2019 se gr.1 en 8-leerders in skole in die provinsie sal amptelik op Maandag 16 April om 08:00 open. Foto: ANA.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het Donderdag bevestig die aanlynaansoeke vir 2019 se gr.1 en 8-leerders in skole in die provinsie sal amptelik op Maandag 16 April om 08:00 open.

“Een van die veranderinge wat ons hierdie jaar aan die stelsel aangebring het, is dat ʼn ouer by enige skool vir toelating van hul kind kan aansoek doen, maak nie saak wat die onderrigmedium van die skool is nie,” het Lesufi gesê.

Volgens Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis by Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum, vra die aanlynregistrasieproses wel die leerder se huistaal, maar stel dit duidelik dat dit “geen invloed sal hê op die toedeling van ʼn skool nie”.

Dit lyk eerder of die afstand wat die skool van ouers se huis of werk is die grootste oorweging by die stelsel dra vir plasing van gr.1 en 8 leerders.

Buys het Afrikaansprekende ouers aangemoedig om om dié rede so gou moontlik hul kinders se aansoekproses te voltooi om te verseker dat hul kind by die skool van hul keuse geplaas word, maar ook om te help om die taalbeleid van Afrikaanse skole te bewaar.

“Ons bekommernis is dat die departement, soos in die geval van Hoërskool Overvaal, van hierdie geleentheid sal gebruik maak om in te meng met die toedeling van leerders by spesifieke skole, sonder om die skole se taalbeleid in ag te neem. Soos met die Overvaal-geval wil die departement druk op Afrikaanse skole sit om hul taalbeleid te verander om Engelssprekende leerders te akkommodeer.”

Buys het gesê indien dit blyk dat daar van ʼn skool se taalbeleid afgewyk word, moet ʼn konsultasieproses met die skoolbeheerliggaam gevolg word. Die besluit om dit te doen moet regmatig, redelik en prosedureel billik geneem word.

Verder moet enige versoeke vir die verandering aan dié beleid op skrif gestel word en na die skoolbeheerliggaam verwys word om verder te hanteer.

Volgens Lesufi sal ouers ʼn aansoek binne vyf minute kan afhandel en kan hulle tot vyf aansoeke per kind op die stelsel registreer. Hy het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie ook gesê die stelsel is gemoderniseer en die kapasiteit is vergroot om tot 30 000 ouers toe te laat om tegelykertyd te registreer.

“Enigiemand wat nie data het nie moet na hulle naaste gemeenskapsbiblioteek gaan om die aanlyn aansoekproses vir hulle kind te voltooi,” het Lesufi gesê. Hy het bygevoeg ouers wat fisiek wil aansoek doen kan ook na hul naaste distrikskantoor gaan waar hulle bygestaan sal word, alternatiewelik kan hulle die Gautengse onderwysdepartement se inbelsentrum kontak.

Die aanlynregistrasieproses sal op 28 Mei sluit waarna plasing tussen 18 Julie en 31 Oktober sal plaasvind.

“Flink optrede van Afrikaanse ouers by Afrikaanse skole kan die nodigheid vir latere regsaksies voorkom as daar politieke druk op skole geplaas word om te verengels.

“Afrikaanse ouers moet veilig speel en dadelik om 08:00 op die 16 April aansoek doen. Daarna moet hulle seker maak hul aansoek is korrek deurgestuur en ʼn skermskoot van die nodige kennisgewing maak wat aandui dat hulle volledig geregistreer is,” het Buys bygevoeg.

  • Ouers van voornemende gr. 1 en 8-leerders kan van 08:00 op Maandag 16 April aanlyn registreer by www.intake.gdeadmissions.gov.za.
  • Ouers kan ook probleme met aanlyn-aansoeke by [email protected] aanmeld.
  • Luister bo aan hierdie berig na Esté Meyer Jansen se onderhoud met Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis by Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum, wat nog raad verskaf aan Afrikaanssprekende ouers oor hoe om die Gautengse aanlynregistrasieproses te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Laura Ingels ·

O JA NEE .. Afrikaanse ouers se kinders gaan oral uit die skole weggehou word en afgekeur word sodat hulle die voorheen AFRIKAANSE skole ENGELS kan maak. Die Dept gaan net argumenteer dat daar nou MEER Engelse kinders as Afrikaanse kinders in die skole is en dat hulle dus die voertaal slegs ENGELS gaan maak .. hier kom dit nou .julle kan skop en klap en slaan soos julle wil .. alle staatskole is binne ‘n jaar ENGELS.

Casper Labuschagne ·

Ek stem saam, en sal ook waarborg dat binne enkele jare sal die uitkoms wat voormalige model C skole lewer vergelykbaar wees met die gemiddelde skool. Tog word ek steeds omring deur mense wat klaarblyklik volstruisgriep onder lede het want hulle staan met hul koppe onder die sand en verseker my dat so iets nooit by hulle skool sal gebeur nie.

Eish ·

Lekker agterbakse voetwerk.
Dis nou n eerstehande voorbeeld van hoe verskuilde agendas werk.

Judge Dredd ·

Lesufi en die ANC trawante probeer alles in hul vermoe om Afrikaans te verwyder as enkel medium onderrig.

Onkunde ·

Vergewe my asseblief my onkunde… Is daar geen moontlikheid dat nog skole gebou kan word nie? Ek verwys hier na privaat individue wat genoeg kapitaal het – ek is bewus van die feit dat dit nie net R100 sal kos om ‘n skool op te rig nie – maar dat daar in die skole slegs Afrikaans sprekende leerders toegelaat sal word. Sal dit gesien kan word as privaatskole? Ek weet ek praat nou van baie geld hier ….

Lerato ·

Om te veg dat n skool net Afrikaans moet wees is so goed as om teen die wind te hoes.
Die lewe is en behoort n gee en neem transaksie te wees.
As die departement n skool veeltalig wil maak, moet hulle ruimskoots fondse en personeel voorsien

Boerseun ·

Julle wou nie luister na die verkramptes nie. Julle moet nou op prestasie meet en die distansie van skool vir logistieke redes? Stoot ook die skoolvonds op. Daar mag sekerlik gekeur word?

Manie ·

Hierdie Lesufi is en van die mees rassistiese persone in die anc. Weet maar dat die man se besluite op ras gemik word en met geen logika. Plaas dat hy soveel energie insit sodat sy powere regering begin skole bou

Oom Kalahari ·

Hierdie Mnr Panyasa Lesufi is al ‘n ou kalant en werk met ‘n strategie. Hy hou nie van of is ongemaklik oor die Overvaal uitspraak en gaan nou alles doen om draai strategiee toe te pas om medium onderrig met getalle. Alles werk mos met meerdeeheid vs minderheid. Jy word gedwing om aan hierdie prosesse met verlaagde standaarde aan te pas en het geen ander keuse anders is dit rassisties.

Willem ·

Hierdie man wil weer chaos veroorsaak, dit is mos waarop alle radikales floreer. Waar is die minister, waarom kan niemand hierdie man gestop kry nie?

Dell ·

My oudste kind was geregistreer 2 jr terug met die eerste aanlyn aansoeke. Ek kon haar nie registreer by die skool naaste aan my huis nie, die dept het dit geblok en haar geregistreer by ‘n tegniese skool. Die skool nmaaste aan my huis, is in ons voedingsarea en ‘n top skool in Gauteng. Die hoof van die skool het ingegryp en my kind is gelukkig in die skool. Die skool is wel gedwing om nog ‘n Engels sprekende klas in te druk, in ‘n reeds oorvol skool. Daar was oor die 80 gr8 leerders in ons gebied wat nie in skole geplaas kon word nie, Afrikaans/Engels. Lesufi het toe al gese die aanlyn registrasie gee hulle die mag om ‘n skool te dwing om hulle taalbeleid aan te pas. Heeltemal blind vir die feit dat daar nie genoeg skole is nie. Hierdie jaar moet ek my 2de kind daar probeer inkry en ek is reeds die ene kommer.

Willem ·

Wat my verstand tebowe gaan is almal weet mos wat Lesufi se agenda is, al paar jaar, waarom tree die minister nie teen hierdie ou op en vervang hom met iemand wat iets na die tafel toe bring nie, of dra sy optrede haar goedkeuring weg?

Is dit deel van die ANC se doel om uiteidelik elke instelling te kaap?

Niel ·

op VF+ se facebookblad het hulle nou genoem dat hulle minister Lesufi gaan aankla ens juis oor hierdie besluit. So ja, darem baklei VF+ nou namens ons.

Casper Labuschagne ·

En so sterf Afrikaanse skole asook die ou model C skole wat nog ‘n puik uitkoms lewer. Ek het gesê dat dit nog sal gebeur, maar is toe uitgelag deur diegene wat beter weet as ek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.