Gedagte vir die dag: Gebed

gebed-hande-bybelstudie

Foto: Godsgirl_madi/Pixabay.com

Is daar van julle wat swaarkry? Dan moet julle aanhou bid daaroor. En dié wat opgeruimd is, moenie ophou lofliedere sing nie. (Jakobus 5:13)

Daar is gereeld op sosiale media versoeke vir gebed. Ek reageer versigtig op al hierdie versoeke, want as ‘n mens sê jy sal vir iemand bid, mag jy nie nalaat om dit te doen nie. Gebed is ‘n ernstige saak. Gebed is ‘n gesprek met die heilige God.

Jakobus leer ons in Jakobus 5:13 so mooi oor gebed. Hy sê as iemand swaarkry, moet hy bid. Ons is so geneig om almal te vra om vir ons te bid. Jakobus se opdrag is dat jy die eerste persoon is wat vir jou moet bid. Jy moet eerste vir jou eie swaarkry bid voordat jy dit aangee vir die volgende persoon of selgroep om vir jou te bid. Jy is die eerste linie van gebed.

In dieselfde vers lees ons dat die wat opgeruimd is nie moet ophou bid of lofliedere sing nie. Ons moet uit dankbaarheid bid vir ons goeie omstandighede of die vreugde in ons lewe en dit dan met ander deel.

Jakobus wil die boodskap oordra dat ons eerste vir onsself moet bid, of dit nou goeie of slegte tye is. Gebed begin altyd eerste by jouself. Jy ken jouself die beste. Jy weet hoe diep jou seer is en waar dit vandaan kom. Stort jou hart voor die Here uit en glo. Hy luister altyd. Hy weet nog voordat jy vra en smeek. Hy ken jou diepste seer en grootste hartseer.

Wanneer jy self bid, maak jy jou verhouding met die Here sterk. Jy leer om te vertrou, al is dit nag en omvou die donkerte jou hele lewe. God luister en Hy sal jou gebede beantwoord. Verskuif jou fokus na God, weg van jou probleme af, en beleef hoe God die uitkoms gee.

Herontdek jou gebedslewe met nuwe en volkome vertroue in God se uitkoms.

Here, aan U gee ek my probleme en vreugde oor. U hoor elke gebed wat ek prewel. Ek loof U daarvoor. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Dankie Here vir U groot genade en liefde vir die mensdom. Opnuut bring ek vir U al my lof en dank tenspyte van moeilike tye. Amen

ChrisE ·

So ruk terug vra iemand (vriend) my of ek vir hom ook bid. Ek antwoord toe as ek onthou want my boek is al so vol en ek dink die Here is bly as ek uiteindelik amen sê na my gepleit en gekerm in Sy ore. Ek gaan sit toe en neem my gebede in oëenskou. Ek kyk na my persoonlike situasie en trek my lewens balanstaat op. Aardse bates het ek nie meer nie. Ek besit nie meer ‘n eiendom nie. Ons besit net die nodige meubels. Ons kar is 16 jaar oud. Dit is my vaste bates. My “bedryfsbates” is, ons gesondheid, my vrou is reeds 5jaar in remissie. Ons kinders wil ons gereeld sien. Die kleinkinders sien ons gereeld. Vriende en familie wat ek na swaar tye (finansieël en ander) oorgehou het wil my ook nog sien. Ek werk. Ek leef. Ek lag graag en baie. Ek het my lewensuitkyk verander. My gesindheid verander. Ek dra geen wrokke teen enige iemand wat die vyf familielede van my op plase doodgeskiet het nie. Ek vergewe en vergeet. Ek is bevry van beswaardheid. Ek is tevrede met myself. My balansstaat is positief. Ek beskou elke dag ‘n dag nader aan die wederkoms.

BidVirMekaar ·

Chris, wat ‘n pragtige lewensuitkyk! Baie seën vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.