Gedagte vir die dag: Geloof

Foto: flowercampings.com

Foto: flowercampings.com

Die geloof is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. (Heb 11:1, 1953-vertaling)

Geloof en vertroue lê baie naby aan mekaar. Geloof is juis ’n vaste vertroue op dié dinge wat ons hoop; ’n bewys van die dinge wat ons nie kan sien nie, aldus die skrywer van die Hebreërsboek. En as ons nie hierdie geloof in ons harte het nie, is dit vir ons onmoontlik om God se hart bly te maak.

Indien jy soms sukkel om te glo, kan jy maar net na die geloof van ’n kind gaan kyk. Kinders glo sonder om op bewyse aan te dring, sommerso; omdat hulle hulle hemelse Vader vertrou en liefhet. Geloof is nie om te weet wat die toekoms inhou nie, maar wel Wie die toekoms hou, lui ’n anonieme aanhaling. Geloof het baie min met gevoel te make: dit vra van jou om God se beloftes jou eie te maak, ook al het hulle nog nie in jou lewe gerealiseer nie. Uit jouself is dit onmoontlik om te glo, want dit is net God wat geloof in jou hart kan werk.

Die teks wat geloof vir my die beste opsom, kom uit Markus 9:23-24. “Vir die een wat glo, kan alles,” sê Jesus vir die pa van die seun wat ’n bose gees het. “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” Indien jy glo, is alles vir jou moontlik, en sal God jou help op dié terreine waar jy soms nog twyfel.

Hemelse Vader, soms sukkel ek om te glo – dankie dat alles moontlik is vir dié een wat glo. Sal U asseblief ook my swak geloof sterker maak? Amen

Lees Hebreërs 11:1-6

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

emilia ·

Sjoe, dis so lekker om iets positief ook te kan lees. Ek dink almal moet eers met die gedagte vir die dag begin want dan gaan die ander berigte nie so baie pla nie. Dankie maroela vir dit! Dis awesome!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.