Groot Trek 185-gedenkprojek: Nasate word met bome onthou

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, plant een van die bome op die Bloedrivier-erfenisterrein. (Foto verskaf)

Die gesegde lui dat as jy ʼn boom plant, glo jy in die toekoms. Dit is wat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ook glo en daarom wil die organisasie 185 bome by die Bloedrivier-erfenisterrein aanplant. Op die besonderse wyse word daar ʼn belegging in die toekoms gemaak, terwyl die voortrekkers wat by die Slag van Bloedrivier geveg het, onthou en gevier word.

Die FAK het Donderdag die terrein besoek en reeds die eerste 50 bome aangeplant. Lede van die gemeenskap wat graag verewig wou word by Bloedrivier het tot die Groot Trek 185-bomefonds bygedra.

“Met die plant van die bome bevestig ons dat ons in die Woord van die Here gewortel is en met toekomshoop leef. Bome is ʼn langtermynbelegging wat in Afrika se warm son, koelte vir die nageslag gee. Deur dié projek bevestig ons 185 jaar later steeds die Gelofte met die geloof en oortuiging dat dit wat ons vandag onderhou en bewaar met betrekking tot die Afrikaner, die geskiedenis en erfenis vir ons kinders en kleinkinders behoue sal bly en met toekomshoop sal inspireer,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, gesê.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, het die projek as die hoogtepunt van die Groot Trek 185-vieringe beskryf. Hy is trots om ook ʼn aandeel in dié geskiedkundige oomblik te kon hê.

“Wat ʼn voorreg om ook ons bydrae te maak op hierdie geskiedkundige landskap van Bloedrivier. Oor 185 jaar gaan ons nageslag steeds volhard in die Gelofte en ons agterkleinkinders sal saam met húl kinders onder die bome kamp en wys dat hulle ook ʼn aandeel in die terrein het.”

Allan Tait, tuinboukundige by die Voortrekkermonument, het sy kundigheid verleen aan die projek en die personeel by die Bloedrivier-erfenisterrein opgelei om die bome te versorg sodat dit vir die toekoms bewaar kan word.

Allan Tait van die Voortrekkermonument en JJ Bosch van Load and Tip (albei regs) het gehelp het om die eerste 50 bome na die Bloedrivier-erfenisterrein te vervoer. (Foto verskaf)

Die geskiedkundige gebeure van die Groot Trek het aan die einde van 1838 tot ʼn einde gekom, vanjaar 185 jaar gelede. Met hierdie historiese mylpaal voor oë het die FAK vanjaar verskeie projekte van stapel gestuur om hulde te bring aan ons voorouers wat met hoop en durf en daad ʼn heenkome in die binneland gaan vestig het.

Die hoogtepunt van die projekte, die nalatenskap wat vanjaar agtergelaat word, is die aanplanting van 185 bome by die plek waar die Groot Trek sy spits bereik het: die Bloedrivier-erfenisterrein.

Van die ander projekte het gefokus op die beskerming van Groot Trek-geskiedenisbakens, soos Voortrekkerbegraafplase en bevordering van Groot Trek-geskiedeniskennis onder die jeug met die FAK se Internasionale Geskiedenisolimpiade. Die Internasionale Afrikaans-Ekspo het die jeug ook aangemoedig om in Afrikaans onder die tema van “trek” kreatief te raak.

Verder het die FAK ook ʼn nasate-funksie in die Voortrekkermonument aangebied, waarby die nasate van Groot Trek-leiers, asook die nasate van diegene wat by die Slag van Bloedrivier geveg het, byeengebring is om hul voorouers te herdenk.

Die FAK het ook verskeie Vrijheidsreis-toere op die spore van die Groot Trek meegemaak, waar toergangers op belangrike bakens langs die Groot Trek vertoef het, soos die Bloukransmonument, Vegkop en die Bloedrivier-erfenisterrein. Hierdie toere sal ook in die toekoms vir die publiek aangebied word.

Müller het bevestig dat die publiek steeds die geleentheid gegun word om hul nalatenskap te bevestig en dat daar steeds bome geborg kan word, sodat daar aan die einde van 2023 presies 185 bome by Bloedrivier aangeplant is. Stuur vir Barry Müller ʼn e-pos by [email protected] indien jy ook ʼn boom wil borg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.