Hartbeespoortdam en Brits is nou deel van FAK-familie

Lede van die Brits en Hartbeespoortdam se nuwe FAK-kultuurnetwerk. (Foto verskaf)

Dié twee dorpe in Noordwes het besluit hulle wil hul deel doen vir bewaring van erfenis in hul gebied en het hul eie FAK-kultuurnetwerk gestig.

Oor die afgelope paar jaar is 28 FAK-kultuurnetwerke dwarsoor die land gestig wat gemeenskappe help om eienaarskap van die erfenis in hul eie omgewings te neem.

Dié netwerke verseker dat die taal, kultuur en Afrikanergeskiedenis in daardie gemeenskappe behoue sal bly en bevorder word, veral onder die jeug.

Verskeie plaaslike moontlikhede is op dié vergadering bespreek, van die skoonmaak en beskerming van gedenkwaardighede, tot die uitbreiding van toerisme in die gebied met die Afrikanerbakens.

Die inskakeling by skole en bestaande plaaslike projekte is ook een van die kernfokuspunte om die taal en kultuur verder te bevorder.

Volgens Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, het hierdie gebied talle erfenisskatte waarvan die meeste inwoners nie eers bewus is nie.

“Daar is onder andere Deborah Retief (Piet Retief se dogter) se graf wat skuins oorkant Gustav Preller s’n staan. Daar is ’n monument vir Eugène Marais waar hy sy eie lewe geneem het, die Transvaalse Burgeroorlogmonument en Anglo-Boereoorlog-burgergrafte,” sê Müller.

Die nuwe netwerk bestaan uit inwoners van die Hartbeespoortdam- en Brits-gemeenskappe, asook verteenwoordigers van verskeie organisasies en instellings soos die Koersvas en Hartbeespoortdam Voortrekkers, Rapportryers, VF-Plus en die Brits Pos-koerant.

“Ons glo en vertrou nog meer instansies en lede van die publiek gaan later hierdie saak ondersteun, saamstaan en eienaarskap neem vir die behoud en toekoms van die erfenis by hulle,” sê ’n opgewonde Müller.

Tydens hierdie stigting was dit duidelik dat Hartbeespoortdam en Brits se mense gereed is om ’n verskil te maak en dat hulle gerat is om saam tot ’n gemeenskaplike doel te werk.

  • Word deel van die verskil wat jy wil sien in jou gemeenskap deur betrokke te raak by jou plaaslike FAK-kultuurnetwerk. Vir jou naaste netwerk, stuur vir Barry Müller ʼn e-pos by [email protected].

Lede van die Hartbeespoortdam en Brits se nuwe FAK-kultuurnetwerk gaan nou saamwerk om kultuurskatte in die twee dorpe te bewaar. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.