Hennenman-plaasmoord: Eddie Hills (26) sterf

Eddie Hills.

Eddie Hills (26) is oorlede.

“Jy is by die huis, my beer, wag vir ons en slaap sag,” het sy vriendin, Marizanè du Plessis, Woensdagmiddag op sosiale media geskryf.

Medelye stroom sedertdien in.

Eddie is Maandag breindood verklaar nadat hy en sy pa einde verlede week op hul plaas naby Hennenman in die Vrystaat aangeval is.

Pieter Hills (56) is tydens die aanval op teregstellingswyse doodgeskiet. Eddie is in die nek geskiet nadat hy glo op die aanval afgekom het.

Eddie is aanvanklik ná die aanval in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal op Welkom opgeneem voordat hy later die dag per lugambulans na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas is.

Eddie Hills en sy vriendin Marizanè du Plessis. (Foto: Facebook)

“Eddie is breindood en sou ʼn kwadrupleeg gewees het. Ons wag dat sy groot boerseunhart ophou klop,” het sy ma, Antionette, Maandagaand laat weet.

Vier verdagtes is oor die naweek in Phomolong in hegtenis geneem in verband met die aanval nadat speurders van die Hennenman-polisie en lede van die misdaadvoorkomingseenheid onverpoos gewerk het om ʼn deurbraak in die saak te maak.

Een van die verdagtes, ʼn 47-jarige man, is egter Saterdag in die vroeë oggendure dood in ʼn polisiesel aangetref nadat hy homself gehang het.

Tshidiso Patrick Bochedi (36) het Maandag in die Hennenman-landdroshof verskyn op aanklag van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord en huisroof. Hy bly in aanhouding tot hy weer eerskomende Maandag in die hof sal verskyn om sy aansoek om borgtog te begin.

Die tweede verdagte sou na verwagting vandag in dieselfde hof verskyn, terwyl die derde een vrygelaat is nadat sy nie positief met die misdaad verbind kon word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Misky ·

Dis so tragies en hartseer. Baie sterkte aan tannie Antoinette. Jy is in elke SA’ner se gebede vandag en die dae wat voorlê en moeilike tyd

Suzette ·

Dis baie hartseer!! My hart breek oor al die onsinnige moorde in hierdie land. Hoekom kan daar nie net vrede wees en almal rustig en veilig in hierdie land woon nie.

Persheks Adri ·

My hart is stukkend vir ons boere! Hierdie kind was nog so jonk en sy hele lewe was voor hom. Baie sterkte aan die familie en vriende in die moeilike tyd mag God julle dra! Rus sag my kind

Pierre ·

“Tshidiso Patrick Bochedi (36) het Maandag in die Hennenman-landdroshof verskyn op aanklag van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord en huisroof.”

Mis ek iets hoekom poging tot moord?

Persheks Adri ·

Moord beslis nie meer poging tot moord nie sou ek sê…

Africangrey ·

My innige sympatie met sy vriendin, moeder, en verder familie, dis hartverskeurend, ek dink aan julle in hierdie vreeslike tyd, rip ou grote.

Marlene ·

So hartseer. Onnodig. Dink aan almal wat lief was vir hierdie mooie jongman

Tsek! ·

Ek verstaan nou nie….het die verdagtes net ge-poog om hulle dood te maak? Sover ek kan lees is die oom op die plek dood geskiet – dis moord en nie poging tot moord – Eddie se geval is poging tot moord en nou dat hy dood is- is dit moord – het ek dit nou verkeerd? Maar vuur n paar blanks in die lug af is dit ook poging tot moord??? Hierdie regstelsel….ek verstaan hom nie.

Dries ·

Toe hy in die hof was vir poging tot moord, het die seun nog geleef. Die klag sal beslis nou verander word.

Onnie ·

Dis ongelooflik hartseer. So n mooi sterk boerseun. Sterkte aan sy geliefdes.

Cecilia ·

Die Staat wil d lot v Plaasarbeiders ondesoek maar 2 onsinnige moorde gaan net verby soos water onder n brug.
Sterkte aan d familie en vriende

Sandy ·

Gister toe ek lees Eddie is breindood verklaar – het ek sommer kliphard begin tjank. Ek ken julle nie – maar ons dra julle seer saam met ons. Baie sterkte aan die familie vir julle groot verlies.

Swerkater ·

Rus sag seun. Jy en jou pa het dit beslis nie verdien nie. So jammer ons patetiese sisteem het julle gefaal….

Riaana ·

Sterkte, aan die Familie mag God julle dra deur hierdie verskriklike seer tyd, julle is in ons gebede, Eddie en sy Pa is nou in die Hemel, hul wil nerens anders wees nie, R. I. V????????

Persheks Adri ·

Myne ook twaalfboor! Nog sinnelose moorde op ons boere. Ek is hartseer en kwaad… So onnodig weet jy!

Werner ·

En gisteraand nog n boer by Odendalsrus doodgeskiet .Wie is nog naief genoeg om te dink hierdie is nie oorlog nie

Mad Mike die Rhodesiër ·

Groot hartseer, maar miskien is dit beter, aangesien hy 24 uur versorging sou benodig het as hy nie na ‘n beter plek vertrek het nie. Rus in vrede.

Nico ·

My innige meegevoel aan die Hill gesin wat nou twee van die gesin verloor het wat so onnodig was. Sterkte en seën vir die familie in hierdie tyd.

Dries ·

Nee!!!! So jammer, sterkte aan die wat agterbly. Mag geregtigheid geskied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.