Hennie Koortzen met radioprys vereer

Hennie-Koortzen.jpg

Hennie Koortzen.

Hennie Koortzen, die gesoute radiopersoonlikheid en rugbykommentator, word later vanjaar saam met ʼn handjievol ikone in die radiobedryf in die eregalery van die Suid-Afrikaanse Radio-toekennings ingehuldig.

Koortzen is tans die uitvoerende hoof van Pretoria FM en is ook ʼn rugbykommentator vir SuperSport.

Pretoria FM is ook vanjaar vir drie toekennings benoem: Die nuusprogram Klankkoerant Oggend, die dramaprogram Malchus, en die omroeper Anton Meijer is in verskillende kategorieë in die afdeling vir gemeenskapsradiostasies benoem.

“Ek is uiters trots op die span van Pretoria FM. Ons as radiostasie se benadering is om ons luisteraars te vermaak en in te lig terwyl ons taal en kultuur vir ons baie belangrik is. As jy kyk na die spektrum waaroor daar wel benoemings ontvang is, sluit dit al hierdie verskillende fasette in,” sê Koortzen aan Maroela Media.

Hennie Koortzen. (Foto: Facebook/Hennie Koortzen)

“Dit wat ons werklik vir ons luisteraars wil bied, is die tipe programme wat wel erkenning met die benoemings gekry het. Dit sê vir my dat ons op die regte pad is met Pretoria FM en dat ons altyd sal voortgaan met dit wat vir ons belangrik is, soos om ons luisteraars op ʼn breedvoerige, volledige en gebalanseerde wyse ingelig te hou.

“Dit is vir my ʼn volgende vlak waarheen Pretoria FM op pad is, as ʼn mens kyk na die prestasies wat die stasie die afgelope ruk behaal het en die feit dat ons ons vlerke sprei met ʼn wyer uitsaaivoetspoor. Dit is vir my lekker om te weet dat ons dit op die regte manier doen en daarvoor erkenning kry.”

Koortzen word vanjaar saam met radio-veterane soos Benjy Mudie, Mark Jennings, Nadia Bulbulia, Siphiwo Magoda en Trish Taylor in dié eregalery ingehuldig.

Hy vertel hy was verras oor dié toekenning. “Ek het dit glad nie verwag nie, en wat ʼn voorreg om dié tipe erkenning te kry vir ʼn medium wat nog altyd vir my belangrik was. Vandat ek kan onthou was die radio in die agtergrond aangeskakel en het ek daarna geluister.

“As kind van die verre Noord-Kaap, in Kakamas se wêreld, was dit altyd my droom om by die uitsaaiwese betrokke te raak. In 1979 het ek aan die Universiteit van die Vrystaat betrokke geraak by die kampusradiostasie en daarna het die SAUK en verskeie gemeenskapsradiostasies gevolg.”

Hennie Koortzen en Kobus Wiese. (Foto: Facebook)

Koortzen was oor die jare heen oor ʼn wye spektrum, van agter die mikrofoon tot in die bestuurderstoel, by die uitsaaiwese betrokke.

“Wat ʼn voorreg dat ek na al die jare steeds my passie vir die uitsaaiwese kan uitleef. Terwyl ek my passie daarvoor nog kan uitleef en opwinding vir my werk ervaar, gaan ek daarmee voort. Radio is die een medium waar ʼn mens onmiddellik inligting met luisteraars kan deel en dis dadelik beskikbaar. Die bekoring wat radio vir soveel mense het oor soveel jare, is wat vir my absoluut uitstaan.”

Die wenners van die SA Radio-toekennings word op 26 November bekend gemaak. Vir meer inligting, besoek www.radioawards.co.za.

Hier is ʼn volledige lys van die benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter9 ·

Vas aan die slaap met sy Dagboek in die oggende- kan dalk net nuus lees.

Fanus ·

Baie geluk Hennie. Jou sport en veral rugby kennis is uitstekend. “Give that man a Bell’s”

Ronél ·

Besonders, baie geluk, welverdiend aan ‘n ware heer en opregte mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.