Meer as 300 kunstenaars op die feesterrein, vyf kuierverhoë buiten die Standard Bank-hoofverhoog, verskeie debuuttoneelproduksies en ’n uitgebreide crawl-program – dís maar net ʼn paar van die hoogtepunte waarna Innibos-feesgangers vanjaar kan uitsien.
Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Nelspruit, wat onlangs vir die derde agtereenvolgende jaar die kykNET Fiësta-toekenning vir die gewildste kunstefees in die land gekry het, word vanjaar van 5 tot 8 Julie gehou en is selfs groter as voorheen.
Ander vermaak op die feesterrein sluit in die Boma Kuierteater, die Bosmôl, kosstalletjies, die kunspark, die Bosbioskoop en die kinderoppasdiens Apies in die Bos.
Die fees word vanjaar weer op die laaste aand afgesluit met die gratis Loof Hom Innibos-konsert op die Standard Bank-hoofverhoog.
Toegangskaartjies
Toegang tot die feesterrein vir voorskoolse en laerskoolkinders is gratis. ’n Weekkaartjie kos R500 en pensionarisse betaal Woensdag 5 Julie slegs R50.
Ander kaartjiepryse vir Woensdag 5 Julie is R110 (goue sirkel is R80 bykomend); op Donderdag 6 Julie is dit ook R110 (geen goue sirkel nie); Vrydag 7 Julie kos ’n kaartjie R165 (R110 vir die goue sirkel) en op Saterdag 8 Julie is dit R195 (R240 ekstra vir ’n sitplek in die goue sirkel).
Toegang tot die ATKV-Boeke-oase in die Nelspruit Hoërskool se Kultuursentrum is gratis. RSG sal ook elke feesdag ’n gedeelte van die nuusprogramme Monitor en Spektrum van daar uitsaai, sowel as RSG-kuns en Skrywers en boeke.
Die volledige feesprogram is beskikbaar op die Innibos-webwerf.