Soorte resepte:

Jan Braai belê in jonges se braaivernuf

Jan Braai (Foto: Verskaf)

Die ou, bekende spreekwoord “moenie met vuur speel nie” waarsku dat ʼn mens nie by gevaarlike dinge betrokke moet raak nie. Jan Braai keer egter dié spreekwoord op sy kop wanneer hy sê dat daar beslis elke dag met vuur gespeel moet word – veral saam met die kroos.

Met Nasionale Braaidag (24 September) om die draai, is dit die perfekte tyd vir Jan se twee jongste braaiboeke, My First Jan Braai Book en Jan Braai Junior, wat pas bekendgestel is.

“Om te braai speel ʼn integrale rol in die ontwikkeling van jou menswees en die samelewing, en dit is immers ook ʼn kerndeel van ons land se gemeenskaplike erfenis,” sê Jan aan Maroela Media.

“Ek dink dit is beslis belangrik dat ouers sommer vroeg al begin om saam met die kroos ‘met vuur te speel’ deur hulle te leer hoe om die hout te pak, die vuur aan te steek en versigtig te wees om nie te brand nie.”

Wanneer dit by die basiese beginsels van braai kom, is daar eintlik nie ʼn beter leermeester om die volgende generasie braaiers op te lei as Suid-Afrika se eie braaikoning nie.

Jan sorg al sedert 2005, toe hy Nasionale Braaidag op die ouderdom van 25 begin het, dat oud en jonk jaarliks op 24 September rondom die vuur byeenkom moet kom om Suid-Afrika se nasionale braai-erfenis te vier.

As ʼn mens daaraan dink, sê Jan, is daar ʼn hele nuwe generasie wat met braaidag grootgeword het en wat al hulle hele lewe lank op Erfenisdag ook help om die land se braai-erfenis lewendig te hou.

“Kinders wat op die eerste Nasionale Braaidag gebore is, is nou 18. Dit is die ouderdom waar jy al hoe meer daarin begin belangstel om kos te maak. In die lig hiervan het ek gedink dit is nou ʼn goeie tyd om in die jonges se braaivernuf te belê.”

Hoewel die jongste toevoegings tot sy Jan Braai-versameling op lesers tussen ses en agtien gemik is, sal volwassenes ook waarde uit dié braaigidse put.

My First Jan Braai Book is ʼn eenvoudige en prettige inleiding tot braai vir die kleinspan. Dit sluit vertalings van basiese braaiterme in Afrikaans, Engels, isiXhosa en isiZulu in, en foto-illustrasies met instruksies hoe om gunsteling-geregte soos chakalaka en geroosterde malvalekkers te maak.

Jan Braai Junior bevat ʼn verskeidenheid braairesepte, stap-vir-stap instruksies, en ʼn paar wenke wat op ouer kinders en ouers gemik is. Die boek leer ook meer oor basiese toerusting en Jan stel bekostigbare bestanddele voor.

“Resepte wat hierby ingesluit is, is regtig van ʼn eenvoudige aard. Enigiemand wat al 22 resepte in die boek onder die knie het, gaan vir die res van hulle lewens soos ʼn kampioen kan braai,” meen Jan.

In die beplanningsfase van die boek, het Jan op sy ervaring en intuïsie staatgemaak en hy het ook by sy Facebook-gemeenskap vir hulp aangeklop. Hy wou by sy volgelinge weet wat kinders geniet om by ʼn braai te eet, en die gewildste antwoorde was braaibroodjies, ribbetjies, verskillende snitte hoender, wors en malvalekker op ʼn stokkie.

Jan het ook resepte vir knoffelbrood, mieliepap, hoenderpotjie en roosterkoek ingesluit. Volgens hom is die roosterkoekresep, wat reeds in sy ander braaiboeke verskyn het, “baie beter as die voriges”.

“Ek het probeer om dit te vereenvoudig. Wat ʼn mens afsit, is die moeite om die deeg te knie. ʼn Kind van agt of tien gaan dit nie regkry nie. Die resep is aangepas sodat daar meer vloeistof inkom. Die deeg gaan steeds rys, en as dit dalk in die proses êrens vassit, kan jy net ʼn bietjie meer meel bo-op strooi.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk ·

Solank hy tee drink saam braaivleis bewonder ek nie sy braaikuns nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.