Jan Kempdorp-huis brand af naby halfgeboude brandweerstasie

(Foto: Verskaf)

Dit was so hittete of ʼn gesin van vier het nie lewend uit hul brandende huis gekom nie. Frikkie Schoombee, ʼn ketelmaker van Jan Kempdorp in die Noord-Kaap, glo vas die Here het sy vrou, Marlize, net betyds wakker gemaak om hul gesin te red nadat hul huis weens vermoedelik ʼn kortsluiting aan die brand geslaan het.

“Ons is net dankbaar vir die Here se genade en redding. My vrou het niks geruik of gehoor nie, net skielik met groot vrees en angs wakker geskrik. Sy het my dadelik wakker gemaak en ons kon die kinders, Jacintha (10) en Rianke (4) betyds uit die huis kry. As dit 10 of 15 minute later was, sou ons in die vlamme vasgekeer gewees het.

“Ek sidder om aan die alternatiewe te dink, maar ons is veilig en ek weet dit was die Here,” sê Schoombee.

(Foto: Verskaf)

Die brand het Saterdag kort ná middernag uitgebreek.

“Ons vermoed dit was ʼn elektriese kortsluiting wat net ná beurtkrag gebeur het. Daar was nie tyd om enigiets te gryp nie; ons wou net veilig uit die huis kom.”

Dit het beteken die gesin het met net hul nagklere aan uit die huis gevlug.

“Ons het nie versekering op die huisware nie en het alles verloor. Al ons klere, juwele, die kinders se speelgoed en boeke, elektroniese ware, selfs die kar en motorfiets het verbrand.

“Alles is nog baie deurmekaar. Dit is erg traumaties vir al vier van ons.

“Ons jongste verstaan nog nie lekker wat regtig gebeur het nie. Sy vra herhaaldelik vir haar speelgoed en selfs die spesifieke tandeborsel wat in die brand vernietig is.”

Frikkie, Marlize en hul dogters Jacintha (10) Rianke (4) (Foto: Verskaf)

Schoombee vertel dat hy en sy vrou al tien jaar lank in Kersielaan op Jan Kempdorp woon – met ʼn halfgeboude brandweerstasie net om die draai.

“Die dak het heeltemal inmekaar gestort en al die balke is weggebrand. As die brandweerstasie klaar gebou was, sou minstens die helfte van ons besittings waarskynlik gespaar kon bly.”

Volgens Schoombee het hulle die brandweer op Taung, 40 km vanaf Jan Kempdorp, ontbied. Dié was ʼn halfuur later op die toneel, maar nadat die huis reeds afgebrand het.

Volgens Estelle Davies, ʼn VF Plus-raadslid by die Phokwane-munisipaliteit, is die munisipaliteit se nuwe, onvoltooide brandweerstasie in Piet Retiefstraat vyf minute se ry van waar die huis afgebrand het.

Die brandweerstasie wat steeds in aanbou is. (Foto: Verskaf)

“As dié projek binne die beplande tydsraamwerk voltooi was, kon hierdie huis gered word,” sê Davies.

Weens probleme met die goedkeuring van planne, asook ʼn dispuut oor die perseel, is die afhandeling van die projek van einde April tot einde Junie uitgestel, sê Davies.

“Die VF Plus sal verseker dat geen verdere onnodige vertragings met die brandweerstasie plaasvind nie.”

Schoombee sê die gemeenskap het ingespring om hul gesin in dié moeilike tyd te help.

Die Laerskool Hartswater het sy klerebank vir skooldrag oopgestel, terwyl die AGS en die NG kerk ook hul klerebanke beskikbaar gestel het. Skenkings vanuit die gemeenskap stroom ook in.

“Alle eer aan God en ons diepste dank teenoor die gemeenskap vir die ongelooflike liefde en ondersteuning wat hulle in die moeilike tyd aan ons bied.”

  • Maroela Media het die Phokwane-munisipaliteit om kommentaar oor die halfgeboude brandweerstasie genader en dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.