Kaapstad 11de beste stad ter wêreld – ranglys  

Kaapstad. (Foto: Sharaan Muruvan / Unsplash)

Kaapstad se goeie kos, kultuur, berge, strande en naglewe is van die eienskappe wat aan dié stad ʼn 11de plek op ʼn internasionale ranglys met die 53 beste stede ter wêreld besorg het. Die Moederstad het selfs groot stede soos Madrid, Melbourne, Londen en New York getroef.

Dié ranglys is verlede maand deur die leefstylhandelsmerk Timeout.com gepubliseer, met Kaapstad wat beskryf word as ʼn stad “waar jy iets van alles kan doen”. Die lys is met behulp van ʼn leserspeiling en in samewerking met ʼn netwerk van redakteurs en skrywers wêreldwyd saamgestel.

Kaapstad is verder geloof vir sy omvangryke buite- en natuurlewe met volop staproetes, asook sy teaterproduksies. Altesaam 87% van Kaapstadse respondente het aangedui dat dit maklik is om in dié stad te ontspan – baie meer as op enige ander plek ter wêreld, terwyl 97% van respondente die stad hoog aanbeveel vir die groot verskeidenheid aktiwiteite wat gebied word.

Johannesburg het die lys net-net gehaal en skitter in die 49ste plek.

Die Goudstad word onder meer vir sy buitelug kos- en koopmarkte aanbeveel, vir sy diverse kultuur, nagklubs en kroeë.

Ongeveer 80% van respondente wat in Johannesburg woon en aan die peiling deelgeneem het, sê die stad is divers, hoewel net 4% gesê het dat die stad maklik te voet verken kan word. Redes hiervoor is nie aangevoer nie.

Skotland se hoofstad, Edinburgh, word as die beste stad gelys gevolg deur Chicago in die VSA en Medellín in Colombia.

Kleurvolle huise in Kaapstad. (Foto: Devon Janse van Rensburg / Unsplash)

“Plaaslike inwoners weet al lank dat Kaapstad ’n driedubbele A-gegradeerde stad is, wat in hierdie geval na verblyf, besienswaardighede en lugvaart verwys, wat die voordeel van ons bestemmingswaarde aandui,” het James Vos, die DA se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei in Kaapstad, Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Vos sê met meer geleenthede, skeepvaarte en vlugte van die VSA, VK en Europa wat in die komende weke geskeduleer is om te begin, kan Kaapstad se toerisme- en gasvryheidsbedryf selfs ʼn groter toestroming van reisigers verwag.

“Hierdie positiewe uitslae is die resultaat van harde werk, samewerking en innoverende veldtogte deur die Stadsraad en Kaapstad Toerisme, ons amptelike bestemmingsbemarkingsorganisasie.

“Deur die talle inisiatiewe wat die ontwikkeling van klein ondernemings ondersteun, help ons plaaslike ‘toerisme-entrepreneurs’ om die ekonomiese winste wat in die vakansieseisoen gemaak kan word, aan te gryp.”

Vos sê ʼn onlangse verslag deur die wêreldreis- en toerismeraad het bevind dat die bedryf se bydrae tot Suid-Afrika se BBP oor die volgende dekade meer as R554,6 miljard kan wees terwyl 800 000 werksgeleenthede geskep kan word.

“Ons ondersteuning vir die toerismebedryf word grootliks gedryf deur die massiewe ekonomiese voordele wat ondernemings uit verhoogde besprekings, meer besteding, werkskepping en bykomende beleggings kan trek.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Waarnemer ·

Tog so jammer mens kan nie in die 11de bedte dtad se seewaters gaan swem nie ….djt is ysig koud.SA se beste stad is Durban waar jy ook alkes kry wat jy in Kaapstad kry behalwe die Tafelberg,maar die warm seewater mask op daarvoor…..

Cherokee ·

…en bibberend daar uitstap, Samuel. In Durban swem mense enige tyd van die jaar.

Samuel ·

Cherokee, mens stap nie bibberend uitdie water in die somer nie.

VaalDonkie ·

Die water raak al kouer hoe verder jy teen die Weskus op beweeg. Maar ek het nog nooit rerig gevoel Blouberg se water is te koud nie. En dis waarheen ons gewoonlik gaan want dis net so oor die heuweltjie as jy Durbanville om ry. Vat maar net die effe langer pad deur Milnerton sodat jy vir Dunoon misry.

piet ·

Alles wat Kaapstad het? Ons kan begin met historiese waarde en plekke (geen vergelyking). Wynroetes wat net ‘n klipgooi ver is (geen vergelyking) en ,en, Durban is kultuurarm in vergelyking met Kaapstad. Gaan swem in Muizenberg, die water is warm. Enige strand wat nie wit sand het nie, is in elk geval ‘n “turn off” vir my. Lyk net nie lekker en idillies nie. Dit by gese, ek woon 7km van my naaste strand af, weet nie wanneer laas ek daar was nie. Maande terug, dis eintlik ‘n skande dat mens nie daar uitkom nie.

VaalDonkie ·

pietie! Ek het vergeet jy bly hier rond. Ja, ons wyn is die beste in die wereld en jy kan dit tjiep koop as jy na die wingerd toe ry.

Niks teen Durban nie, maar die Kaap is maar net in ‘n ander liga.

Susanna ·

Nee genugtig, Durban!! Dan vat ek eerder die Kaap se koue water, dis so onveilig daar.

George ·

Eks n Capie soos wat ons gedoop is jare terug, en ek is bitter lief vir KZN se strande en water, was 2 weke terug daar, en KZN het beslis die beste weer en water, Aug en ons het nie 1 trui aangehad nie, geswem van 9am tot laat middag toe

MJ ·

Was jy al in Des op Durban se strand in die laaste paar jaar??

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis te betwyfel of die townships saamstem. Inwoners hardloop vir hul lewens.

Frank ·

Nei, weet nie so lekker nie. Kaapstad verstaan ek.
Maar hoe kan Johannesburg op die lys wees. Ons weet mos hoe dit daar gaan. En Chicago, USA se moord hoofstad, waar alles deesdae verkeerd loop wat verkeerd kan loop, 2de? En Colombia met sy kartelle en dwelm smokkelary 3de?

VaalDonkie ·

Dit lyk my dit gaan oor sekere “leefstyle”. Want wat anders het Kaapstad en Chicago in gemeen?

Marthinus W ·

As ek reg onthou, was Moskou verlede jaar nommer 1, en Sint Petersburg en Hong Kong ook op die lys. Hulle is almla nou vyande; dus word hulle geskrap.

Samuel ·

Indien die misdaad minder was, kon Kaapstad seker beter gevaar het? Misdaad gaan ons toerisme nog ‘n groot knou gee.

VaalDonkie ·

Gelukkig hier is die misdaad min of meer beperk tot sekere areas. Bly uit middestede uit en moenie na die skema’s en nedersettings gaan nie, en dis asof jy in ‘n Europese stad rondloop.

Hennie Biebouw ·

Kaapstad is ‘n wonderlike plek om vir ‘n week of wat te kuier ja, en dan weer na jou veilige tuiste in ‘n ander wêrelddeel terug te keer.

So terloops, die Kaapstadse Lughawe is geleë op ‘n onveilige plek. Dis omtrent ‘n gauntlet om saans laat daar te land (Soos bv KLM se KL597) en dan met die N2 te moet reis tot jou volgende bestemming.

VaalDonkie ·

Ry Bellville toe en dan klim jy op die N1 of ry Kuilsrivier toe en gebruik die R102. Afhangende van waar jy wil gaan.

Vexed ·

Nee wat dit is reg, ek bly my hele lewe lank al hier in Kaapstad. Sal dit nie wil verruil vir ander wêrelddele nie. Ja, ek was al in verskeie wêreld dele…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.