Kerk dra by tot erfenisbewaring

Desireé Morgan, verteenwoordiger van dié kerk oorhanding een van die boeke aan dr. Danie Langner by die Erfenisstigting. (Foto verskaf)

Vir die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) Pretoria-Oos is die bewaring van kosbare erfenisskatte belangrik. Dié kerk het verlede week ook woord by die daad gevoeg en ʼn skenking van skaars boeke, Bybels en verskeie voorwerpe aan die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Jakarandastad gemaak.

Hierdie skenking sluit onder meer in ’n 1937-uitgawe van CJ Langenhoven se Mof en sy mense, ’n Afrikaanse vertaling van Skat-eiland deur Robert Louis Stevenson wat dateer van 1925 en Memoirs of Paul Kruger, Four Times President of the South African Republic: Told by Himself.

“Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe die publiek erns maak met hul erfenis en moeite doen om die voortbestaan van erfenisskatte te verseker,” het Jaco Cilliers, bestuurder van erfenisbewaring by die Voortrekkermonument, gesê.

“Wanneer elke individu self verantwoordelikheid neem en maniere soek om erfstukke te bewaar, kan dit vir die volgende geslagte behoue bly.”

Die Erfenisstigting beskik oor ’n naslaanbiblioteek gevul met besonderse boeke wat die navorser tot dieper insigte kan bring en dit is hiér waar die geskenkte boeke veilig bewaar sal word.

(Foto verskaf)

“Toe ek hoor van die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument, die geriewe tot hul beskikking en alles wat hulle doen, het ek geweet ek moet hierdie kosbare boeke skenk,” sê Desireé Morgan, verteenwoordiger van dié kerk.

“Ons het ook ons eie biblioteek, maar hierdie spesifieke boeke is van soveel waarde, ons wou graag hê die publiek moet daarna kan kyk.”

Morgan verduidelik die kerk het ’n meer permanente hawe gesoek waar die boeke veilig bewaar kan word, terwyl dit steeds toegangklik is.

“Ek glo die stigting sal die boeke mooi in bewaring hou.”

Hannah Kotzé, Desireé Morgan, Jaco Cilliers, dr. Danie Langner, Annie Pienaar en Attie Boshoff. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kaplyn ·

APK baie dankie dat julle erns maak met ons kultuur- en erfenisskatte. Baie mense is mos skaam daarvoor. Dankie dat die APK nog die enigste kerk in SA is wat die Woord Skrifgetrou verkondig, vry van al die humanistiese uitsprake van die dag wat lynreg indruis teen ons volk se kultuur- en erfenisskatte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.