Soorte resepte:

Kerrie en rys as ambassadeur

(Foto: Gerhardus Geldenhuis)

Deur Gerhardus Geldenhuis

So ʼn paar jaar gelede het ek vir die kerk se tegniese span lasagne gekook. Ek moes vroeg begin want dit was vir 40 mense en ek was man-alleen in die kombuis. Die resep is van my broer afkomstig, wat dit op sy beurt saam met ʼn Italiaanse skoolvriend saamgestel het. Ek het ʼn bietjie die hoeveelhede oorskat en het op geëindig met ʼn groot klomp oorskot. Ek onthou ek was amper in trane want daar het soveel bloedsweet en hartstog in die maak van die dis gegaan, en nou moes ek die moontlikheid in die gesig staar dat dit vermos gaan word.

Net ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede het ek kerrie en rys gekook in Istanbul, nou nie vir 40 mense nie maar vir ʼn vriendin van Istanbul en haar vriende, en ek wou ook graag ʼn positiewe indruk van Suid-Afrika skep in die vreemde, want ek voel altyd ʼn verantwoordelikheid om my land op ʼn positiewe manier te verteenwoordig.

Eers moet ek dalk vertel hoe ek by die punt uitgekom het.

Ek en Gamze het by die Oxford food symposium on Food and Cookery ontmoet. Sy het vir jare die kos gereël vir die simposium en ek het stelselmatig betrokke begin raak met brood bak, vrugtestrope maak, sjefs en sjef-toebehore karwy en enigiets anders wat nodig was om te doen vir die simposium om vlot te verloop. Dit was ook dus nie lank nie voor daar ʼn staande uitnodiging was om Istanbul te kom besoek, en ek kon toe uiteindelik so maak in Oktober 2022 na ʼn storm die eerste probeerslag weggewaai het.

Ek het vinnig ingeburger in my blyplekkie na ʼn kort verwarring oor die kleur taxi wat ek van die lughawe moes vat, want blykbaar is sekeres duurder as ander. Ek het ʼn Turkse koffie bestel, onder in die straat waar my blyplek was, wat in ʼn klein koppie kom saam met ʼn glas water. Persoonlik dink ek die glas water is nie omdat die koffie so sterk is nie maar om jou dors te help les. Ek het gepeusel aan ʼn Simit wat ʼn sirkelvormige broodjie is met sesamsade bo-op wat voortdurend deur die dag gebak en verkoop word. Vir my was dit heerlike, maar ʼn mens moet gewoond raak aan die effense min sout in die brood. Die minder sout bring die smaak van die sesamsade na vore. Gamze het later gevra wat ek beplan vir aandete en aangedring dat ek my eerste aand saam met haar en haar man deurbring by hulle plaaslike restaurant.

Wat ʼn ongelooflike ervaring; klein, beknop, besig, ʼn heerlike atmosfeer en definitief ʼn plek vir die plaaslike mense wat gou duidelik was toe Gamze begin bestel sonder ʼn spyskaart. Ek is ook genoop om saam met hulle raki te drink wat ʼn sterk anys-smaak het. Jy meng dit met water en drink dit dan voortdurend in klein hoeveelhede saam met die verskillende disse. Dit was ʼn ongelooflike aand met heerlike geselskap en kos. Die lekkerste dis vir my, was waarskynlik die vars gevang en gebraaide sardientjie-filette wat ʼn keerpunt was vir my, ʼn ou Transvaler wat net rooivleis geëet het.

Ek wou dus my dank betoon en so deur die markte en restaurante heen wat ek en Gamze oor die volgende paar dae besoek het, het ʼn idee ontwikkel en ons het besluit om ʼn kultuur-uitruilaand te hou. Ek het bobotie of kerrie en rys voorgestel as tipies Suid-Afrikaans. Die kerrie en rys waarmee ek groot geword het; kerrie met klein stukkies aartappel en ertjies, wit rys, piesang, blatjang en klapper.

Die piesang saam met vleis was vir Gamze iets nuut, so ons het daarop besluit. Ons moes ʼn bietjie soek vir van die bestanddele, maar op die ou end het ons alles gekry wat nodig was. Die blatjang was nou wel ʼn effe van ʼn mengsel en die klapper effe fyn, maar beide was werkbaar. Die piesangs is gedek soos ʼn derde stuk eetgerei, die rys was van Iran, die kok van Suid-Afrika, die slaai en die gaste van Turkye. Die vreemde kombinasie was ʼn wenner en ons het gekuier tot in die vroeë oggendure en nouer bande gesmee.

Op my tweede laaste dag het ek gaan poeding soek en op die ou end Kazandibi-Tavukgöğüsü geëet (want dit het lekker gelyk). Ja, ek het ook nie geweet wat dit was nie. Dit was wel lekker en het vir my geproe soos ʼn interpretasie van melktert. Ek is later deur Gamze ingelig dat dit hoenderborsie-poeding is. Ek dog toe dit is net ʼn beskrywing, maar nee, dit is presies dit, hoenderborsies wat verwerk is tot dit onherkenbaar in ʼn heerlike poeding ontskep is. Dat ek toe Kazandibi-Tavukgöğüsü geëet het, wat baie tradisioneel is en dit boonop geniet, het ʼn baie positiewe indruk gelaat.

Aan die einde van my besoek, met ons opnuut gesmede vriendskap bemiddel deur die uitruil van smake, kon ons beide met meer vrymoedigheid gesels oor politiek, ons as nasies se plek in die wêreld en die wêreld se perspektief van Suid-Afrika en Turkye.

Dit het my herinner aan ʼn kort video wat ek by ʼn koskonferensie gesien het wat gehandel het oor twee groepe mense van Turkye en Armenia, wat deur middel van ʼn gedeelde kostradisie kon bymekaar kom, grense oorsteek en ʼn groter verstaan kweek van mekaar se agtergrond. Kyk dit gerus hier! Daar is Engelse onderskrifte beskikbaar.

Ek het stadigaan begin besef dat ʼn mens iets van jouself gee wanneer jy kook en ook dat jy iets van jouself gee deur vreemde kosse te probeer wanneer ander mense vir jou kook.

So elke aksie is ambassadeurskap; of dit nou lasagne is in ʼn kerkkombuis, raki-drink in ʼn restaurant, kerrie en rys eet met piesang of soet hoenderborsie verwar vir melktert. So wie se kos kan jy ʼn kans gee en watter brûe kan jy bou?

  • Gerhardus is woonagtig in Engeland met sy hart in Suid-Afrika. Hy berei gereeld groot etes voor vir die kerk, bied kosmaakwerkwinkels aan by sy huis, soos hoe om jou eie miso te maak, en gaan pluk oor elke jaar meer blomme en vrugte as wat hy ooit self kan opeet. So deel hy gereeld konfyt, stroop en ander lekker dinge aan vriende uit. Hy het leer brood bak in ʼn Duitse bakkery en is aktief by die Oxford Food Symposium on Food & Cookery betrokke. Stuur vir Gerhardus ʼn e-pos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.