Khampepe-verslag loop deur oor ‘een getuie’

stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch. (Argieffoto)

Die Khampepe-verslag na beweerde rassisme by die Universiteit Stellenbosch (US) – waarin Afrikaans volgens die DA aan rassisme gelykgestel word – het op ʼn enkele getuie staatgemaak om tot die bevinding te kom.

Dr. Leon Schreiber, die DA se kieshoof vir Stellenbosch, sê die “skokkende onthulling” in die verslag wys dat ten spyte van verskeie herinnerings aan studente en personeel om vertroulike inligting oor probleme met die kommissie te bespreek, is net 22 vrywillige voorleggings eindelik ontvang.

Daar is meer as 33 000 studente en personeellede by Maties, sê Schreiber, wat beteken minder as 1% van die universiteitsgemeenskap was voldoende besorg oor probleme op kampus om die moeite te doen om die kommissie te nader.

“Dit is dus gegrond op ʼn onderhoud met een bona fide-getuie dat Khampepe besluit het dat Afrikaans afgeskaf moet word,” sê Schreiber.

Die verslag lui ook dat verskeie getuies verduidelik het dat Stellenbosch die “tuiste van talle konserwatiewe, tipies wit Afrikaners is wat rassistiese en ander bekrompe oortuigings en beskouings het” en dat studente dikwels rassisme ondervind wanneer hulle dorpsmense teëkom.

Uit die 22 mense wat vrywillige voorleggings gedoen het, is net ʼn enkele getuie genooi om mondelingse getuienis te lewer, sê Schreiber. Die verslag lui wel dat die ander voorleggings, in soverre dit “tersaaklik en nuttig” was, deur die kommissie oorweeg is.

Anders gestel: Altesame 99,3% van die Maties-gemeenskap het nie eens die moeite gedoen om met die kommissie in verbinding te tree nie. Dit beteken die verslag is nie ʼn weerspieëling van die ondervindings van die oorgrote meerderheid lede van die universiteitsgemeenskap nie, sê Schreiber.

Toe dit duidelik word dat bitter min van studente iets met die kommissie te doen wou hê, het die regter haar na die universiteit se bestuur gewend op soek na nog “getuies” en nog “bewyse”.

Schreiber sê Khampepe het self erken dat prof. Wim de Villiers, rektor, en sy bestuurspan die bykomende inligting self uitgekies het.

Ten spyte van die bestuur se pogings om nog getuies te “vervaardig”, het Khampepe eindelik onderhoude met net 47 mense gevoer. Hiervan het 46 nie vrywillig na vore gekom weens kommer oor die situasie nie, maar in opdrag van hul base in die universiteit se bestuur, sê Schreiber.

“Sommige van diegene met wie onderhoude gevoer is, was selfs bestuurslede. Hulle het dokumente aan die kommissie gegee, oënskynlik om te verseker dat dit die voorafbepaalde doelwit bereik om Afrikaans met rassisme gelyk te stel, as ʼn voorwendsel om die taal by die universiteit uit te wis.”

Hy sê die verslag is nie eens naastenby ʼn weerspieëling van die werklike ondervindings van die US-gemeenskap nie, maar dié van die universiteit se bestuur en ʼn groepie wat lankal probeer om van ʼn amptelike inheemse taal ontslae te raak.

Prof. Wim de Villiers. (Argieffoto)

Die DA het reeds aangedui dat hy hom tot die hof gaan wend om die verslag en die bevindings oor Afrikaans te betwis en Schreiber sê die kommissie se slordige werk bevestig hoekom dit dringend gedoen moet word.

Schreiber het ook die DA se oproep herhaal dat De Villiers ʼn onomwonde onderneming moet gee dat die aanbeveling – dat Afrikaans afgeskaf word – nie in werking gestel sal word nie.

“Indien hy versuim om dit te doen, sal ons hierdie ganse verslag laat omkeer en in die hof wys hoe die US-bestuur die kommissie opgestel het met die uitsluitlike voorafbepaalde doelwit om as dekmantel gebruik te word om Afrikaans af te skaf.”

De Villiers het vroeër gesê die verslag is ʼn kantelpunt vir die universiteit en dat daar ook na die kultuur van koshuise op kampus gekyk moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Joggie ·

Ons almal weet die verslag is ‘vervaardig’ om ou Wim se agenda te dryf…

Martie Smartie ·

Ha ha dis nou funny. Net so n reuse klug as wat daai verslag is en dit waarop dit gegrond is, is Wim de Villiers self. Hy hardloop sy bene af om dit te eerbiedig. En hy word ‘n professor genoem! Goodness me. Afrika standaarde! En op RSG raai hy so ewe die DA aan om die verslag mooi te gaan less. Hulle het mnr De Villiers en jy? Wim de Villiers slaan sy naam nou erger met n plank as ooit vantevore. Hy hemel n verslag op wat duidelik gegrond is op 0.7% studente se persoonlike idees (waarskynlik 22 swart studente) en een wat getuig. Wat n grap. As swart studente so sleg gevoel het by die US, waarom was hulle nie daar nie? Want hulle weet Wim fight hulle battles ne?

Martie Smartie ·

Die bronne is absoluut gemanipuleer deur De Villers

Johann ·

Druk n opgerolde verslag in Wim se gwar op sodat hy ten minste kan regop staan. Want ‘n rugraat van sy eie het hy nie. Absolute verraaier van Afrikaans! IN YOUR FACE SHAME ON YOU!

Althes ·

Haha, wat ñ klugspul. Nou word wimpie en kie ontbloot vir wie hul regtig is.

Cherokee ·

Jou spelling is reg… sy naam word met klein letters geskryf.

annie ·

Die Khampede-kantelpunt? En nou word die kommissie UCT-klandisie. Wat gaan daar kantel want Afrikaans is no more… Dink hard. Wat van Van Riebeeck se streke destyds toe…

GWS ·

Ek is so bly die DA hét die verslag gelees! Wat ‘n skande op die Prof en die Komissie se naam!!!

Hennie ·

Wat ‘n sepsis. Nog ‘n uitsonderlike instellings wat ge-Africanise word! Rus in vrede Stellengemors…

Martin ·

Asb mense ni nog hofsake ni vrgeet asb di us dis vrby ons moet vn di gemors ontslae raak hou asb op in ons naam bedel

domheks ·

Volg ramaparra se voorbeeld: Kommissie dit, kommissie dat en volgende kry ou wim sy sin. Na hoeveel $$$$? wat die ou antie gekry het?

Awie ·

My wiskunde verskil so bietjie, dis nie 99,3% wie nie met die kommissie in verbinding getree het nie, maar 99,93%. Dis belaglik dat enige gevolgtrekkings hoegenaamd gemaak word, selfs vir die klomp meelopers.

Andries ·

Hoeka gaan hy {wim} ‘n ANC agterbanker word. Dis te se as hy nie al klaar ‘n geregistreerde kameraad is nie.

Pieter9 ·

Ons ‘swart regsgeleerdes’ se kennis van hul vakgebied is ‘n bron van kommer; ek sien kans vir ‘n regs-kwalifikasie want hierdie klomp gee my moed!

Hennie Biebouw ·

Afrikaans is lank reeds vir alle praktiese doeleindes “afgeskaf” by die US. Die enigste rede waarom hul dit nog as “amptelike beleid” verdra, is om te verseker dat hul steeds kan aanspraak maak op die Jannie Marais fonds se goue eiers…

Kweperlat ·

Dis nie alleen uiters sorgwekkend om te verneem waarmee die prof hom bemoei nie, dis klinkklare verraad teenoor sy eie mense en kultuur! Ruggraatloos in hierdie opsig is ‘n erg eufemistiese beskrywing!

Jakkie ·

Hoog tyd dat Akademia n voltydse kampus vestig in die WesKaap. Stellenbosch het verengels . Daar is heelwat geskikte plekke George, Oudthoorn en selfs Worcester het die infrastruktuur…..

Gerrie ·

Wim de Villiers is nou maar eenmaal ‘n Yankee liberalis.

Wildemien ·

Kader Wim is skaamteloos en blatant, maar het ons enigiets anders verwag? Ek wonder hoeveel geld kry Wim onder die tafel deur om hierdie spesifieke agenda te bevorder. Daar is nie ‘n swakker klas mens as hierdie ou nie – onbetroubaar en dan nog ‘n leunaar ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.