‘Kyalami 9 Hour’ keer terug

Die historiese Kyalami 9 Hour word weer vanjaar aangebied. (Foto: Verskaf)

Tussen 1961 en 1988 het name soos Derek Bell, Jochen Mass, Jacky Ickx, Jody Scheckter, Clay Regazzoni, David Piper, Richard Attwood en vele meer in ʼn uithouvermoëwedren op die Kyalami-renbaan vir nege uur gejaag om eerste oor die wenstreep te wees.

Na ʼn 37 jaar lange rustydperk is dié wêreldberoemde wedren terug! Die historiese Kyalami 9 Hour vorm deel van Pirelle se 2019 Intercontinental GT Challenge. Die ander wedrenne is Liqui-Moly Bathurst 12 Hour, California 8 Hours, Total 24 Hours of Spa, Suzuka 10 Hours en dan sluit die seisoen af by Kyalami van 21 tot 23 November 2019.

Stéphane Ratel, uitvoerende hoof van SRO Motorsports Group, glo dat die toevoeging van Kyalami by die ander GT3-renne op vanjaar se kalender ʼn droom is wat bewaarheid word. “Ek probeer al jare lank die Afrika-been van die reeks van die grond af kry. Om dit uiteindelik vasgeknoop te hê, is ʼn reusesukses en ek is verheug om Afrika deel van dié kampioenskap te maak. Dit beteken dat ons nou op vyf vastelande meeding. Ons is nou werklik ʼn globale byeenkoms en ek sien uit na November wanneer die asemrowende klanke en geluide van die renmotors op Kyalami vir nege uur sal brul!”

Die historiese Kyalami 9 Hour vorm deel van Pirelle se 2019 Intercontinental GT Challenge. (Foto: Verskaf)

Terwyl die Intercontinental GT Challenge slegs vir GT3-spesifikasie renmotors is, sal daar tydens die Kyalami 9 Hour ook terselfdertyd plaaslike kampioenskapjaers in hul eie klasse jaag. Almal sal die baan deel met IntGTC se agt volseisoen-vervaardigers – Audi, Bentley, BMW, Ferrari, Honda, Mercedes-AMG, Nissan en Porsche. Twee van Suid-Afrika se eie sterre, Kelvin van der Linde en Jordan Pepper, ding mee in die IntGTC vir algehele oorwinning.

Ná Toby Venter Kyalami-renbaan gekoop en reuse-herstelwerk gedoen het, kan daar nóú eers só ʼn wedren weer by Kyalami plaasvind. Danksy Venter se entoesiastiese samewerking gaan die Kyalami 9 Hour voort.

“Toe Stéphane na my gekom het met die voorstel het ek nie gehuiwer om hom te laat weet dat ek ywerig was om betrokke te raak nie. Kyalami was nog altyd die verhoog vir ikoniese motorsportwedrenne – en om die Kyalami 9 Hour weer hier te huisves is werklik spesiaal. Dit is ook fantasties om ʼn internasionale wedren hier te hê vir plaaslike gesinne om te kom geniet!” sê Venter.

Early bird-kaartjies is tans beskikbaar en kan hier (www.kyalami9hour.com) gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rudi ·

In die goeie ou dae het dit jou nie hierdie mal kaartjiepryse gekos nie, jy kon eie eet- en drinkgoed invat en sommer injou kombi oorslaap. Nee, die goeie ou dae is verby . . . .

Chris Ws ·

Smaak my mens mag nie soos in die ou dae met jou voertuig ingaan en langs die baan teen die draadheining staan nie.Al was dit dus verniet om in te gaan sou ek nog steeds nie gaan nie.als te ete en drinke met binne gekoop word ook.Teen watter vet pryse nie!Ek onthou hoe ek en ;n maat die Vrydag aand al in ‘n voertuig daar teen die heining langs die baan oorgeslaap het en gevrek het van die koue.Lekker tye gewees maar sal die’ keer maar mis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.