Lichtenburg-erfenisskatte nou deur FAK bewaar

Die ingang van die Ampie Bosman-museum ná die brand. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die oorblywende erfenisskatte en die oorskot van die Ampie Bosman- kultuurhistoriese museum gaan verwyder en in bewaring geneem om te verhoed dat dit gesteel word.

Meer as twee weke sedert die brand op 24 Oktober by die museum in Lichtenburg uitgebreek het, is daar steeds geen antwoorde gegee of stappe gedoen deur die munisipaliteit nie.

“Die munisipaliteit het ook nie eens gepoog om veiligheidsmaatreëls in te stel om verdere vandalisering en diefstal te voorkom nie,” het Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke, gesê.

Van die skatte wat uit die puin verwyder kon word, is ʼn verkoolde houtborsbeeld van genl. Koos de la Rey en verskeie antieke wapens en kombuisware.

Die brand het by die museum uitgebreek en na die stadsaal versprei. Omstanders beweer dat die brandweer weens voortslepende diensleweringsprobleme nie genoeg water gehad het om die brand te blus nie en groot gedeeltes van die geboue is in puin gelê.

Verskeie kosbare kultuurskatte is weens hierdie brand verlore, onder meer briewe van Siener van Rensburg en die bronsbeeld van De la Rey wat in die slag gebly het.

“Ons kan nie bloot staan en kyk hoe ons erfenis verbrand en gesteel word en verlore raak nie. Elke dag wat daar nie opgetree word nie, is nog ʼn dag wat ons erfenis vergaan. Dit is tyd vir aksie,” sê Müller.

Charles Rademeyer van die FAK sit by om skatte uit die as te probeer red. (Foto: Verskaf)

Juis daarom het ʼn span van die FAK na Lichtenburg gereis om te kyk wat nog te redde is vanuit die puinhoop wat voorheen die Ampie Bosman-museum was.

Net in 2023 het die Ditsobotla-munisipaliteit in Lichtenburg reeds vyf verskillende munisipale bestuurders aangestel. Nie een het skynbaar tot dusver die mas opgekom nie. Dit geld ook vir die aanstelling van ʼn burgemeester en dié ampsdraer is vanjaar ook reeds twee keer vervang.

“Lede van die Ditsobotla-munisipaliteit het keer op keer bewys dat hulle onbevoeg is selfs binne hul eie departemente, wat nog te sê van hul verantwoordelikheid om ons erfenis te beskerm.

“Die FAK het verskeie kere waarskuwings van onbekwaamheid, nalatigheid en ʼn tekort aan sekerheid aan die Ditsobotla-munisipaliteit gerig, maar dít het telkemale op dowe ore geval.”

Frans de Klerk, veldtogbeampte van die FAK, sê Afrikaners moet rekenskap gee van hul eie erfenis óf die risiko aanvaar dat dit tot die grond toe verbrand kan word.

“Ons gesels lekker op sosiale media, maar wanneer geleenthede aangebied word om ons erfenis te beskerm, daag min op. Ek hoop dat ons mense wakker skrik ná hierdie tragedie en die werklikheid aanvaar – as ons nie self ons erfenis beskerm nie, dan brand dit. Ek nooi lede van die publiek graag uit om die FAK se geleenthede by te woon en te help red – dít wat nog redbaar is.”

Die Ampie Bosman-kultuurhistoriese museum na die verwoestende brand (Foto: Verskaf)

Die FAK kon die volgende items vanuit die puinhoop red voordat dit weggedra is:

  • Verskeie boeke en dokumente
  • Verkoolde houtborsbeeld van De la Rey
  • Verskeie kombuisware (koppies, bakke, pierings)
  • Twee wabande
  • Gereedskapstukke (beitels, emmers)
  • Stukke van Nonnie de la Rey, Koos se vrou, se koets (spaaider). Die meerderheid van die koetsoorblyfsels was vasgekeer onder die dak wat ingeval het.
  • Handgewere en geweerlope

“Die munisipaliteit is traag om die gebou op te ruim. Sodra die dak gelig is, sal die FAK weer die ruïnes gaan besoek om te bepaal wat ons nog in bewaring kan neem,” sê Müller.

Die FAK is ook bekommerd oor die kunsgalery by die dorpsbiblioteek en is toegang tot die gebou geweier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Dki FAK
Lichtenburgers NEEM jul eens mooi dorp terug! HOU OP toekyk en kla!

Amelia ·

Dis jammer sou wat wou gee om daardie briewe te kon kry Kan daar nie net afskrifte van sulke briewe of dok gemaak word en oorspronklike in bankkluise bewaar word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.