Lika Berning: Ystervrou op die kassie, ‘gewone mamma’ tuis

Lika Berning (Foto: Facebook)

Die bekende Liefling-aktrise Lika Berning is weer terug op die kassie vir die tweede seisoen van Die Byl wat tans op Showmax te sien is.

Berning het reeds haar hande vol met haar vervaardigingsmaatskappy, Rocky Road Films, haar media-opleidingsmaatskappy, iKasi Media, én dan is sy boonop ook ʼn vrou vir haar akteurman, Clyde, en ʼn toegewyde ma vir haar drie kinders.

Om 18 weke lank aan die bekende speurdrama Die Byl te skiet, was dus nie vir dié besige aktrise ʼn maklike taak nie.

“Ek het baie tyd op die pad deurgebring, wat nogal moeilik was. Ek woon in die Kaap, so ek moes elke dag Strand toe ry vir verfilming. Maar gelukkig is my man wonderlik en het hy baie gehelp,” sê Berning.

Berning se karakter, kaptein Lena Maree, is ʼn forensiese sielkundige wat deel van “Byl” (gespeel deur Waldemar Schultz) se span is. Berning se driejarige seuntjie, Jessie, is dié seisoen sáám met sy ma in die reeks te sien waar hy die rol van Lena se seun vertolk.

Lika en Jessie (Foto: Instagram via @likaberning)

“Ek en my man is baie versigtig daarmee om ons kinders aan die vermaakbedryf bloot te stel, omdat ons weet hoe dit is. Maar hierdie keer het dit net so goed gepas – Jessie moes net homself wees!” lag sy.

“Hy is so ʼn maklike outjie; hy is net altyd gelukkig en kla nooit. Die kere wat ek moes werk het hy sommer so onder die kameramanne se bene rondgehardloop. Die hele ervaring was eintlik heel lekker.”

Wanneer sy nie op stel was nie het Berning steeds probeer om ʼn doodgewone ma vir Jessie, Hugo (7) en Anneke (2) te wees.

“Ek probeer baie betrokke bly by my kinders. Ek doen die gewone goed soos op- en aflaai en snoepiediens by die skool. Ek wil aanhou om ʼn normale mamma te wees.”

Lika se man, Clyde, saam met hul drie kinders, Hugo, Jessie en Anneke (Foto: Instagram via @likaberning)

Berning sê sy hou kop met haar besige skedule deur lysies te maak. Sy hou ook daarvan om tyd by die huis te deur te bring, en dit is dáár waar sy kan werk aan wat sy meen haar grootste prestasie nóg is, iKasi Media.

iKasi Media is ʼn opleidingsmaatskappy wat jong mense in die landelike gebiede van die Tuinroete, die Klein-Karoo en Kaapstad leer oor mediavaardighede. “iKasi is nie iets wat ek wíl doen nie, dit is iets wat ek móét doen. Dit gee terug aan gemeenskappe wat nie die geleentheid het nie en dit lê baie na aan my hart,” sê Berning.

iKasi Media bied programme in rolprent, televisie en radio en wissel van programme wat oor sewe dae strek tot geakkrediteerde 12 week lange programme.

Lika en Clyde Berning (Foto: Facebook)

Berning sê dit pas haar ook goed omdat sy dié werk van die huis af kan doen. “Ek is in beheer van my eie skedule en ek kan vinnig in my kar spring as ek ʼn kind moet gaan optel of aflaai.

“Die saak is wel ʼn bietjie anders as ek 18 weke lank aan ʼn reeks moet gaan skiet,” lag sy.

Die Byl is tans op Showmax te sien en sal in Desember vanjaar op kykNET uitgesaai word. Ander akteurs in dié speurdrama sluit in Milan Murray en Rolanda Marais.

Dié reeks is geïnspireer deur die bekende Suid-Afrikaanse speurder Piet Byleveld, wat voor sy dood in Mei 2017 van Suid-Afrika se mees opspraakwekkende moordsake, soos die moorde op Leigh Matthews, Sheldean Human en Sibille Zanner, opgelos het. Die reeks is egter fiktief en is nié ʼn biografie van Byleveld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bossie ·

Wat ‘n voorreg Lika. Dit is bitter moeilik in hierdie wêreld om ‘ n balans te vind. Ek ken ‘n ma wat 14 ure per dag moes werk vir haar 2 seuns. Sy het 2 beroepe beoefen en haar seuns bykans nooit gesien nie. Hul pa is oorlede toe hul klein was en hul ma het nie weer getrou nie. Vandag is altwee seuns geleerde manne en hul dra hul ma op die hande. Hul was super studente wat bitter min sosiaal wou verkeer want hul wou nie faal nie en ook nie hul ma teleurstel nie. Ek haal my hoed af vir haar en haar seuns. Daar is soveel ouers wat nie ‘n keuse het nie. Geniet jul voorreg en bly op jul knieë van dankbaarheid daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.