Matriek 2014: Departement maak gereed vir uitslae

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van onderwys het Vrydag gesê alles verloop glad om die matriekuitslae vroeg volgende jaar vry te stel.

“Die voorbereiding vir die vrystelling van die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat vorder goed,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “Die departement is op skedule om die nasionale en provinsiale slaagsyfers in Januarie 2015 bekend te maak.”

Minister Angie Motshekga sal op 5 Januarie die uitslag van die eksamen bekend maak tydens ʼn regstreekse uitsending wat op die televisie en die departement se webwerf uitgesaai sal word. Die uitslae sal die volgende dag in koerante en op Maroela Media beskikbaar wees en word vanjaar slegs met die matrikulant se eksamennommer gepubliseer.

“Die departement moedig matrikulante aan om hul uitslae by die skool of eksamenlokaal af te haal,” het Mhlanga bygevoeg. Onderwysers sal op 6 Januarie by die skole wees om navrae te beantwoord en om raad en ondersteuning aan te bied.

Altesaam 688 660 matrikulante het geregistreer om die eindjaareksamen af te lê, waarvan 550 127 voltydse matrikulante was. KwaZulu-Natal het die grootste groep voltydse matrikulante gehad en Gauteng die minste. Meer meisies as seuns, altesaam 54.6%, het vir die eksamen geregistreer. Die eksamens is landswyd in 6 740 lokale afgelê met 65 000 toesighouers. Altesaam 41 000 persone het die vraestelle by 118 lokale gemerk.

Klik hier om op Maroela Media te registreer sodat jy per SMS of e-pos in kennis gestel kan word sodra die uitslae beskikbaar is op die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.