Melville-skietery: ‘Deurbraak volg binnekort’

Poppy’s-restaurant in Melville (Foto: Google Maps)

Die Gautengse polisie verwag om binnekort ’n deurbraak in hul ondersoek na die Nuwejaarsdag-skietery buite die restaurant Poppy’s in Melville in Johannesburg te maak.

Só het Panyaza Lesufi, waarnemende premier van Gauteng, Vrydag gedurende sy besoek aan die Helen Joseph-staatshospitaal in die stad gesê waar diegene wat in die voorval gewond is tans behandel word.

Lesufi is vanoggend gedurende sy besoek deur Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, en dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid, bygestaan.

Volgens Lesufi het die polisie reeds beeldmateriaal van sekerheidskameras in die gebied nagegaan en vasgestel dat die nommerplate van die BMW-sportnutsvoertuig, wat die betrokke oggend verby Poppy’s gery en lukraak op klante by tafels buite die restaurant losgebrand het, vervals is.

Twee vroue is in die voorval doodgeskiet en ses ander gewond gelaat, onder wie die akteur Mortimer Edwards. Edwards is bekend vir sy rol as Ricci September in die dramareeks Erfsondes op SABC2.

Die akteur Mortimer Edwards (Foto: Facebook)

Twee van die pasiënte is intussen ontslaan terwyl een steeds in ’n kritieke toestand is.

Lesufi het gedurende vanoggend se besoek aan die hospitaal gesê daar moet eerder nie in dié stadium bespiegel word of die voorval bendeverwant is nie. Hy het wel bevestig dat die Melville-skietery en die soortgelyke skietery in Newtown nie in dié stadium verbind word nie.

Maroela Media het vroeër berig 11 mense is sowat twee uur ná die skietery in Melville in ’n soortgelyke skietery in Newtown gewond.

Verskeie skote is omstreeks 03:00 op Mary Fitzgeraldplein, spesifiek op die BBP-gedeelte van ’n Nuwejaarspartytjie, vanaf die brug op die M2-Suid afgevuur.

Lesufi het gesê voorvalle van dié aard plaas hospitale en hul hulpbronne onder druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.