Monster-baan vreet houe by Amerikaanse Ope

Suid-Afrika se MJ Daffue. (Foto: ROSS KINNAIRD / Getty Images via AFP)

Die derde ronde van die Amerikaanse Ope in Brookline, Massachusetts, het Suid-Afrika se MJ Daffue (+7) se kanse om saam met die voorlopers te gesels, sleg in die wiele gery. Hy het sy ronde in 78 houe, agt houe swakker as die baansyfer, voltooi. Daffue het die eerste nege putjies in een oor baansyfer 36 gespeel, maar die tweede nege was rampspoedig. Dit het ʼn sewe op die syfer-4 tiende putjie en ʼn ses op die syfer-4 dertiende putjie ingesluit.

Daffue sal die laaste ronde in die gesamentlike 49ste plek afslaan. Hy is elf houe agter die voorlopers, die Engelsman Matt Fitzpatrick (-4) en die Amerikaner Will Zalatoris (-4).

Fitzpatrick en Zalatoris is albei op soek na hulle eerste Major-gholftitel. Daar is ʼn klompie groot name wat in hulle nekke blaas. Verdedigende kampioen Jon Rahm is net een hou agter hulle.

Scottie Scheffler, die nommereenspeler op die wêreldranglys, is twee houe agter die voorloper nadat hy sy derde ronde in 71 houe voltooi het. Die winderige toestande en die gure ruveld het van die wêreld se topspelers laat les opsê. Rory McIlroy van Noord-Ierland het gesukkel en moes met ʼn 73 tevrede wees. Hy is drie houe agter die voorlopers. Volgens McIlroy was dit een van sy moeilikste dae op ʼn gholfbaan.

Die Amerikaner Collin Morikawa (+2) was een van die voorlopers na die tweede ronde, maar sy derde ronde van 77 houe het sy kanse in die wiele gery.

Sou Fitzpatrick die toernooi wen, sal hy dieselfde prestasie behaal as gholflegende Jack Nicklaus. Hulle sal dan albei die Amerikaanse Amateur- en Amerikaanse Ope-titels op dieselfde baan gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.