Moord, aanval ‘beplan’, sê vrou

Dr. Tini de Boer in haar praktyk met ‘n foto van Frans Venter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Dit is duidelik dat hierdie nie net ʼn gewone plaasaanval was nie.”

Só vertel dr. Tini de Boer (53), nadat sy verlede Vrydag op ʼn plaas naby Kroondal in Noordwes deur vyf gewapende mans oorval is. Dit is vyf maande nadat haar lewensmaat, Frans Venter (68), op dieselfde plaas vermoor is.

De Boer het aan Maroela Media vertel sy het ʼn sterk vermoede dat haar aanval en Venter se moord met mekaar verband hou. Sy voer ook aan dat die aanval en moord haarfyn beplan is.

“Die polisie ondersoek uiteraard die motief agter my en Frans se aanvalle. Dit is vir my duidelik dat die oortreders die plaas wil hê en hulle dink as iets met my gebeur, kan hulle die plaas vat. Ek is nou die teiken en hulle sal enigiets doen om my van die plaas af te kry. Ek het ook ʼn goeie idee wie agter die aanval en moord sit en hulle sal nie wegkom nie.”

Volgens De Boer het sy ná Venter se dood ʼn voorgevoel gehad dat iets “soos hierdie” (haar aanval) sal gebeur.

De Boer het Vrydag omstreeks 08:50 die plaashek oopgemaak. Toe sy omdraai om na haar motor te loop is sy deur vyf mans met vuurwapens omsingel. Een van die mans het ʼn klapmus aangehad.

Die mans het De Boer aangerand en op die grond gegooi, waar hulle haar hande vasgebind het.

Frans Venter (Foto: Verskaf)

“Ek het maar gedoen wat hulle sê, want ek het geweet ek staan nie ʼn kans teen vyf gewapende mans nie.

“Een van die mans het my met ʼn mes genader toe ʼn ander een geskreeu het: ‘Dokter, hulle gaan jou nie doodmaak nie.’ Dit was vir my verbasend dat hy geweet het dat ek ʼn dokter is.”

Die mans het toe De Boer in haar motor se agtersitplek inforseer en haar bene vasgebind.

“Ek het ʼn geraas gemaak en hulle het probeer om ʼn reënjas in my mond te druk om my stil te maak. Ek kon nie asem kry nie.”

Die mans het met De Boer na die plaashuis gery en haar beveel om te wys watse sleutel die deur oop sluit. “Hulle het toe reeds Frans se horlosie om my arm en my sleutels gesteel.”

In die huis het die mans het verskeie items, waaronder selfone, ʼn luidspreker, juwele, klere, ʼn skootrekenaar en ʼn ongelaaide pistool gesteel het.

“Teen so 09:30 was die mans weg.”

Sy het toe begin om die elektriese kabels en skoenveters om haar hande, elmboë en voete los te maak. “Ek kon myself loskry en het toe na die bure gehardloop om die polisie te ontbied.”

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, het bevestig die mans is nog op vrye voet.

De Boer was Maandag weer op haar pos as dokter by die Rosenhof-kliniek in Kroondal.

Soos De Boer die besonderhede oor die aanval met Maroela Media deel, is die blou kol aan haar voorkop opmerklik. Om haar polse is die merke van die elektriese draad waarmee sy vasgebind is ook nog duidelik sigbaar.

“Ek fokus nie op my beserings of wat met my gebeur het nie. Ek fokus daarop om so gou as moontlik die oortreders vas te trek.”

Op die vraag of sy nou ná die aanval vir haar lewe vrees, antwoord sy sonder om vir ʼn oomblik te huiwer: “Die dag toe hulle Frans doodgemaak het, het hulle alles van my weggevat, insluitend vrees.”

Venter is op 21 September verlede jaar op die plaas deur vermoedelik vier aanvallers erg aangerand en vermoor. Maroela Media het vroeër berig Venter se tuinwerker en huiswerker is eers oorval en vasgebind voordat hy wreed vermoor is.

Die polisie het destyds nie veel inligting oor Venter se moord verskaf nie.

De Boer voer aan die inligting rondom Frans se dood wat destyds aan die publiek en media versprei is, is vals, maar wou nie verder daarop uitbrei nie.

Die moord op Venter

Die oggend van Venter se moord onthou sy goed. “Hy het die motor vir my uitgetrek en my ʼn soen gegee en gesê: ‘Ek praat later met jou’. Ek wag nou nog daarvoor.”

De Boer is omstreeks 10:30 by die werk ingelig dat sy plaas toe moet gaan.

“Ek het vermoed Frans het iets oorgekom, want ek het niks van hom gehoor nie en indien daar moeilikheid op die plaas was, sou hy my daarvan vertel het.”

De Boer het Venter dood in die leefkamer aangetref. “Ek kan nie die gevoel beskryf wat ek ervaar het toe ek hom daar sien lê nie.”

Twee verdagtes is kort ná die moord in hegtenis geneem en is volgens De Boer steeds in aanhouding.

Selfone, ʼn pistool en items wat op die plaas gesteel is, is in die verdagtes se besit gevind. Die verdagtes staan tereg op aanklag van moord en huisroof. De Boer glo egter die meesterbreine agter die moord is nog op vrye voet.

Maroela Media het navraag oor die saak aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

De Boer sê haar doel in die lewe is om te sien dat Venter se moordenaars vervolg word en om sy nalatenskap voort te sit.

ʼn Vriend van Venter wat in die VSA woon, het 2 000 dollar (sowat R37 289) as beloning uitgeloof vir enige inligting wat tot die skuldiges se inhegtenisneming kan lei.

“Ons soek die meesterbreine agter die moord, nie net die pionne nie,” sê De Boer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Die ongelaaide wapen moes aan die vrou se sy gewees het ,gelaai en op veilig dan het sy ‘n 50% kans gehad om nie deur hierdie trauma te gaan nie .Die skurke wen hierdie oorlog ver omrede die slagoffers so naïef is.

Hennie ·

Leef in ‘n droom wereld as sy dink die polisie gaan enigiemand vastrek en dan nog tronk toe stuur.

Amelia ·

Is dit moontlik meesterbrein dalk plaas wil he of voorheen daar gewerk het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.