Mosselbaai-betogers bestook motors met klippe

Betogings in Mosselbaai (Augustus 2014) Foto: @DisFen/Twitter

Betogings in Mosselbaai (Augustus 2014) Foto: @DisFen/Twitter

Betogers het Donderdag glo voertuie met klippe bestook tydens sporadiese betogings oor dienslewering en elektrisiteittoevoer in die Kwanonqaba-gebied in Mosselbaai in die Wes-Kaap.

“Daar was voorvalle waar van die betogers klippe na voertuie gegooi het, maar die polisie het ingetree en die situasie het intussen bedaar,” het kapt. Malcom Pojie, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. “Daar is ʼn sterk polisieteenwoordigheid in die omgewing om die situasie dop te hou.”

Geen beserings is aangemeld nie.

Maroela Media het Woensdag berig 30 mense is in hegtenis geneem in verband met openbare geweld en plundering. Inwoners betoog sedert Sondag oor dienslewering en elektrisiteittoevoer in die gebied. “Die persone is Dinsdag en Woensdag in hegtenis geneem,” het kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, gesê.

Die persone het ook strate met brandende bande, stokke en klippe versper. Hulle het glo ook die Kwanonqaba munisipale gebou, langs die polisiestasie, aan die brand gesteek. Volgens Pojie wou die betogers ook die stasie afbrand, maar die polisie kon hulle verhoed.

Ongeveer 100 mense het Sondag aan die betoging deelgeneem, maar teen Maandag was daar ongeveer 3 000 betogers en Dinsdag nagenoeg 7 000.

Volgens Pojie het die skare ook die polisielede met petrolbomme bestook voordat die polisie met rubberkoeëls op hulle losgebrand en hulle met traangas verdryf het.

Die persone wat in hegtenis geneem is sal binnekort in die landdroshof in Mosselbaai verskyn.

Volgens EWN het die Mosselbaai-munisipaliteit glo ingestem om weer onwettige kragverbindinge in Kwanonqaba aan te skakel.

Lees ook:
Mosselbaai-betogings: Munisipaliteit swig onder druk
Mosselbaai-betogers in hegtenis geneem
Foto’s: Betogers gooi klippe, petrolbomme in Mosselbaai

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.