Muizenberg-brand: Brandbestryders gaan deurnag moet werk

Die brand wat woed by Muizenberg in Kaapstad (Maart 2015) Foto: Volunteer Wildfire Services, Facebook

Die brand wat woed by Muizenberg in Kaapstad (Maart 2015) Foto: Volunteer Wildfire Services, Facebook

Brandbestryders gaan deurnag moet werk om seker te maak dat ʼn brand wat in Muizenberg ontstaan het, onder beheer bly, het die stad Kaapstad Maandag gesê.

“Drie helikopters sal tot sonsondergang steeds waterbomme gebruik vir die vlamme in Houtbaai en Tokai,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, in ʼn verklaring gesê. “Die stad se brandweer en reddingsdiens, rampbestuurpersoneellede en –vrywilligers, Tafelberg Nasionale Park, Working on Fire-vrywilligers, Wild Land-brandweer en die Volunteer Wildfire Services is steeds op die toneel.”

Die brand het Sondagoggend net na 02:00 in Muizenberg bo Boyesrylaan begin en is aangevuur deur sterk wind. Die brand het intussen ook na Ou Kaapseweg, Chapmanspiek, Houtbaai en Tokai versprei.

Smith het gesê een brandbestryder is in die hospitaal opgeneem weens brandwonde.

Altesaam 52 inwoners is uit die Noordhoek-aftreeoord ontruim en word vir rookinaseming behandel. Vyf huise is by Silvermine in Noordhoek verwoes. Daar is ook skade aan dele van Tintswalo Lodge by Chapmanspiek. Altesaam 30 huise in Noordhoek is ontruim.

Inwoners van die San Michelle-ouetehuis en die Noordhoek Manor-aftreeoord is ook ontruim, maar hulle kon intussen reeds terugkeer huis toe.

“Die wind het vandag baie gaan lê en dit het die poging om die brand onder beheer te bring, gehelp,” het Smith gesê.

Volgens Smith lyk dit of daar slegs matige wind sal wees oor die volgende 24 uur wat ook die kanse om die brand te beheer, sal verbeter.

Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake het vroeër gesê nog 250 brandbestryders is Maandag ontbied. LUR Anton Bredell het besluit om nog versterkings in te bring, aangesien die brandspanne uitgeput is.

Chapmanspiekrylaan bly gesluit, en Boyesrylaan is gedeeltelik gesluit tussen Old Boyesrylaan en die gholfbaan. Ou Kaapseweg bly ook gesluit weens die swak sig.

Indien die publiek kos of verversings wil skenk, kan dit by die Vishoek- of Lakesidebrandweerstasies afgelaai word, of die NG Kerk in Kommetjeiweg, die Noordhoek-plaasstalletjie en die NG-kerkkampterrein in Noordhoek. Kontantdonasies kan aan Volunteer Wildfire Services geskenk word, het Smith bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor die bergbrand op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.