Multichoice beboet oor advertensie

‘n Lokprent van die televisiereeks volg onderaan die berig. Multichoice is met R10 000 beboet vir ‘n lokprent oor sy televisie-reeks, Hannibal, het die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) Maandag gesê.

UKKSA het drie klagtes oor die advertensie ontvang wat op 24 April tydens ‘n kookprogram, Masterchef Australia, op M-Net vertoon is. Hannibal is losweg gebaseer op ‘n rillerroman deur Thomas Harris, genaamd Red Dragon, wat handel oor die vroeë verhouding tussen die kanibaal, dr. Hannibal Lecter, en sy pasiënt, Will Graham.

Volgens een van die klagtes het die lokprent “baie gewelddadige en groteske beelde gewys wat definitief nie vir kinders bedoel is nie, en nie tydens gesinstyd uitgesaai kan word nie”. “Dit is heeltemal walglik vir ‘n volwassene, maar geheel en al ontoepaslik vir gesinstyd,” het ‘n ander klaer gesê. Die derde het gesê die beelde in die lokprent “het dadelik ‘n indruk op mens se verstand gemaak en is die goed waarvan nagmerries gemaak word”.

Multichoice het ingestem en gesê die lokprent is nie geskik vir jonger kykers nie. “Só ‘n advertensie sou gewoonlik nie goedgekeur word vir gesinstyd nie,” het die maatskappy gesê. “Die lokprent is egter ‘n handelsadvertensie en is deur ‘n oorsese kanaal betaal wat lugtyd op ‘n plaaslike kanaal aankoop.” Hy sê dit was dus nie nodig dat die lokprent eers na M-Net gestuur moes word vir vooraf goedkeuring nie.

“Die kanaal het dadelik die uitsaai van die lokprent gestaak net nadat die eerste klag ontvang is. Ons het boonop maatreëls ingestel om seker te maak dat ons vooraf goedkeuringsproses opgeskerp word om te verhoed dat die voorval herhaal word.”

UKKSA het bevind dat die advertensie teenstrydig is met die inskrywingskode, omdat dit materiaal, wat nie vir kinders bedoel is nie, uitgesaai het in ‘n tyd wat kinders moontlik dit kan sien. “Ons is dus van mening dat, ondanks die versagtende omstandighede en onmiddellike regstelling, dit toepaslik sal wees om die noodsaaklikheid van die bestaande beskerming te demonstreer deur ‘n boete op te lê,” het UKKSA gesê. “Die maksimum boete is R60 000. Ons glo dat ‘n boete van R10 000 toepaslik is in die betrokke voorval.”

Hier volg een van die lokprente vir die televisiereeks. Dit is nie noodwendig dieselfde lokprent waarvoor Multichoice beboet is nie. Nietemin waarsku ons dat dit dalk nie vir sensitiewe kykers geskik is nie.
http://youtu.be/a_SRBMJO25E

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.