Nina Smit sterf op 75

Nina Smit (Foto: Lux Verbi/Facebook)

Nina Smit, een van Suid-Afrika se mees geliefde en suksesvolle Christen-skrywers, is op Vrydag 31 Januarie in die ouderdom van 75 jaar in Somerset-Wes oorlede.

Smit het ongeveer 200 boeke die lig laat sien en talle artikels geskryf wat onder meer in SARIE, Rooi Rose, LIG (vantevore Die Voorligter) en Die Kerkbode verskyn het.

Smit het veral vroulike lesers met haar oordenkings en dagbeplanners geïnspireer.

“Nina se lewensvreugde, sprankelende styl, geestelike insig en besondere woordvermoë sal gemis word,” sê CUM-Uitgewers in ʼn huldeblyk op hul Facebook-blad. “Die skrywerswêreld is armer sonder haar.”

Smit en haar man, Johan, was die predikantspaar van die Wynberggemeente in Bellville-Oos en die Helderberggemeente in Somerset‑Wes. Toe Johan in 2001 afgetree het, het die egpaar voltyds op hul skryfwerk gefokus.

Hulle het onder meer Die klassieke Kinderbybel-storieboek en Meer as ʼn ja-woord saam geskryf.

Die oorsaak van Smit se dood is nog nie bekend nie. Haar man, Johan, is in 2016 in die ouderdom van 73 oorlede.

Nina word oorleef deur hulle drie kinders, skoonkinders en kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Takkie ·

Haar skrywes was werklik vir my ‘n inspirasie. Meegevoel aan die wat sy agterlaat

Ella ·

Ek het ‘n paar van haar boeke. Sy sal voorwaar gemis word. Sterkte aan haar vriende en familie.

Katjie ·

Tannie Nina was een van my gunsteling persone en skrywers. Sterkte aan haar familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.