NWU bars uit sy nate

In hierdie stadium is 11 310 eerstejaarstudente ten volle geregistreer. (Foto: NWU/Facebook)

Meer eerstejaars is vanjaar ten volle by die Noordwes-Universiteit (NWU) geregistreer as waarvoor die universiteit plek het.

Dít volgens prof. Linda du Plessis, waarnemende prinsipaal en visekanselier van die universiteit, wat Donderdag terugvoering oor die vordering met die registrasieproses, asook inentings gegee het.

Byna 150 000 studente het teen die einde van die aansoektydperk by die Noordwes-Universiteit (NWU) aansoek gedoen vir plasing, terwyl 41 077 senior studente teen Donderdag by die universiteit geregistreer het.

Hiervan is 3 200 studente slegs voorlopig geregistreer hangende die finalisering van verskeie kwessies wat hoofsaaklik met betaling verband hou.

In hierdie stadium is 11 310 eerstejaarstudente ten volle geregistreer, hoewel die NWU slegs 10 891 plekke by sy kampusse in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark vir nuwe studente beskikbaar het.

Die NWU het opnuut benadruk dat inentings nie verpligtend is nie en enige personeellid of student wat verkies om weens grondwetlike of mediese redes nie teen Covid-19 ingeënt te word nie, kan om kwytskelding aansoek doen.

Aansoeke om kwytskelding sal individueel oorweeg word en kan wel lei tot spesifieke toegangsbeperkings na sommige van die universiteit se fasiliteite.

Die universiteit se risiko-ontleding wat vantevore gedoen is, moet hersien word en volgens die NWU kan dit ʼn moontlike hersiening van Covid-19-inentingsplanne tot gevolg hê – óf beteken dit bly dieselfde.

Tot die hersiening egter gedoen is, gaan die universiteit nie sy bedryfsprosedures onder werknemers of in die studente-omgewing afdwing nie, sê Du Plessis.

“Ons doen dit omdat ons besef heelwat in die eksterne omgewing het verander sedert ons begin het met die ontwikkeling en inwerkingstelling van die planne in die laaste kwartaal van verlede jaar.”

Die universiteit wag ook op direktiewe van die departement van hoër onderwys en opleiding oor nuwe Covid-19-riglyne, wat universiteite sal help om gevare wat met die pandemie verband hou, te pak.

“Niemand gaan oor hul inentingstatus van enige kampus weggewys word nie. Dieselfde geld vir koshuise,” sê Du Plessis.

Dit lyk in hierdie stadium ook of gradueringseremonies weer ten volle gehou sal word, hoewel sekere beperkings sal geld om aan Covid-19-regulasies te voldoen.

Kampusse weer oopgestel

Du Plessis het benadruk dat NWU ʼn kontakuniversiteit is en alle 2022-studente is vanjaar na kampusse teruggenooi.

“Ondervinding toon dat studente meer waarskynlik slaag in ʼn omgewing waar hul onderrig optimaal ondersteun word,” sê sy.

NWU het in 2020, met die uitbreking van die Covid-19-pandemie, na nood- aanlyn onderrig oorgeskakel, maar het verlede jaar ʼn meer geïntegreerde onderrig-en-leer-model in werking gestel. Vanjaar sal kontakklasse op verskillende maniere verder vermeerder word.

“Hoewel nie elke student elke kontakgeleentheid persoonlik sal kan bywoon nie, stel ons verskeie Hyflex- akademiese venues [aanpasbare hibriede model] beskikbaar wat ons sal toelaat om sessies aanlyn te stroom of opnames later op te laai,” sê Du Plessis.

“Assessering sal aanlyn én regstreeks (persoonlik) gedoen word ingevolge skedules wat later vandeesmaand en volgende maand verskaf sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

Die wat nie plek kry nie want daar kan net SOVEEL ingeneem word, sal seker weer met betogings begin en weer als aan die brand steek! Wat hulle nie besef nie is dat die bevolkingsaanwas met ‘n hengse tempo toeneem elke jaar maar daar word nie nuwe skole, technickons of Universiteite gebou nie. DIT wat daar nou is, is in apartheidsjare opgerig. Sedert die ANC oorgeneem het, het hulle nog NIKS gebou nie, dis hoekom dit orals ‘n probleem is

Johan ·

Daar is twee nuwe universiteite gebou. Een in Mpumalanga, en een in die Noord Kaap.

Johan ·

Hoekom moet enigiemand dan enigsins aansoek doen om vryskelding as die inentings nie verpligtend is nie? Dis klink mos nie reg nie.

VaalDonkie ·

Stuur vir hulle ‘n afskrif van Artikel 12 van die Handves van Menseregte.

Jack ·

Toemaar die halfte skop op in April of maak dit nie.Veral die 30% kanidate se bly sal van korte duur wees.

Kokerboom ·

Te veel studente gaan universiteit toe!!Dit maak ‘n klug van standaard van hoër onderwys. Hulpbronne word vermors.

AmY ·

Ek dink dit het te ‘maklik geraak om Universiteitstoelating te kry.’

Marius ·

Inentings vir gesonde jong mense. Dis absurd. Die doel is seker om meer jong mense se dood te veroorsaak.

Jacobus ·

Hulle gaan nie universiteit toe om te leer nie, net vir die joll en verniet veblyf en etes. Nie almal nie maar so 80% van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.