Ontsnapping: Een voortvlugtige aangekeer

Die Kutama Sinthumule-maksimumveiligheidsgevangenis buite Louis Trichardt. Foto: Via Geogroup.com

Die polisie in Limpopo het een van die ses gevaarlike gevangenes aangekeer wat Donderdagaand uit die Kutama Sinthumule-gevangenis in Louis Trichardt ontsnap het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die man se naam kan nog nie in hierdie stadium bekend gemaak word nie. Hy is aangekeer toe hy ʼn rygeleentheid wou kry op die Bandelierkop-pad.

“ʼn Toegewyde span, insluitend beamptes van misdaadintelligensie, die honde-eenheid, opsporingseenheid en blitsbatrollie is tans op die spoor van die misdadigers,” het Mojapelo bygevoeg.

“Ons doen ʼn beroep op die gemeenskappe in die omgewing van Mavhungeni, Schoemansdal, Maebani en die omliggende plase word om op die uitkyk te wees vir enige verdagte persone en dit by die polisie aan te meld.” Die gevangenes het groen oorpakke aangehad toe hulle ontsnap het. Hy het bygevoeg die publiek moet dadelik hul naaste polisiestasie bel as hulle onraad vermoed en nie die verdagtes self in hegtenis probeer neem nie, aangesien hulle as gevaarlik beskou word.

Enigiemand met inligting kan kol. Mabatha, stasiebevelvoerder van Louis Trichardt, kontak by 082 565 8171 of lt.kol. Tshililo by 082 414 6272.

“Ons verifieer nog steeds die name van die ontsnapte gevangenes en die oortredings waarvoor hulle in hegtenis geneem is. Dit sal so gou as moontlik bekend gemaak word.”

Maroela Media het vroeër berig tronkbewaarders het glo vroeër begin staak en die gevangenes het munt geslaan uit die situasie. “Hulle het op ʼn verwoestingstog gegaan, voorwerpe aan die brand gesteek en skade aan die eiendom aangerig. Tydens die chaos het ses gevangenes ontsnap,” het Motlafela gesê. Die situasie is onder beheer gebring by die gevangenis.

Die polisie ondersoek sake van kwaadwillige saakbeskadiging, brandstigting, intimidasie en die ontsnapping uit wettige aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.