Ontvoer en verkrag: Man dreig tiener glo met dood as sy vertel

(Argieffoto ter illustrasie: Martino Pietropoli/Unsplash)

Hy het gesê hy gaan haar ma vermoor. Dán haar pa. En dan gaan hy háár kom haal …

Dáárom, sê ʼn ma van Florida aan die Gautengse Wes-Rand, het haar 15-jarige dogter doodstil gebly en presies gedoen wat ʼn wildvreemdeling haar beveel het – en sy daarna ontvoer en verkrag is.

“Sy het stilgebly, nie net om ons te beskerm nie, maar omdat sy so verskriklik bang was,” het die meisie se ma Donderdag gesê.

Die ma, wie se naam weerhou word om haar dogter se identiteit te beskerm, sê hul dogter was skoonveld toe haar pa haar vroeg in Augustus by die skool gaan oplaai het. ʼn Grootskaalse soektog het gevolg en die meisie is as vermis by die polisie aangemeld. ʼn Paar uur later was daar ʼn oproep dat hul dogter digby Soweto gevind is. Maar hul nagmerrie was allermins verby.

Volgens die kind het die man haar ʼn week tevore by die skool voorgekeer en met ʼn vuurwapen gedreig. Hy het haar aangesê om hom ʼn week later op ʼn spesifieke plek te ontmoet en uit vrees het sy presies dit gedoen. Op die bepaalde plek is die kind na bewering in ʼn rooi bakkie ingedwing, geblinddoek, iets in die mond gedruk en het die man met haar weggery.

“Dis die laaste wat sy onthou van die vier ure [wat sy vermis was],” het die vrou gesê.

Haar kind kon weer onthou dat sy in ʼn veld naby Soweto uit die bakkie gegooi is. Hier het sy ʼn voorwerp in die hande gekry, haar vermeende aanvaller daarmee teen die kop geslaan en gevlug. Sy het by ʼn nabygeleë vulstasie om hulp gevra en ʼn polisievoertuig is ontbied om haar daar te gaan haal, het die ma vertel.

“Die inwendige ondersoek het gewys dat sy verkrag is.”

Die vrou vertel haar dogter was ná die voorval so siek dat sy later nie meer haar kos kon inhou nie. Sy moes onder meer antiretrovirale behandeling ontvang, medikasie neem om ʼn ongewenste swangerskap te voorkom en teen seksueel oordraagbare siektes behandel word. Sy moes ná die voorval ook ʼn verkragtingsondersoek ondergaan.

“Sy is beter, maar sy het haar goeie en slegte dae. Dis baie moeilik vir haar … sy’s 15. Ek as ʼn ma sukkel om dit te hanteer … ek kan nie eens dink wat deur haar kop gaan nie. Ek sukkel, dis nie iets waardeur enige kind of ouer moet gaan nie.”

Die meisie was ná die voorval nagenoeg twee weke in en uit die hospitaal en ontvang steeds behandeling én berading.

“Sy begin nou nagmerries kry en ons het ʼn vermoede sy begin dalk onthou wat in daai vier ure gebeur het.”

Die vrou vertel ná die voorval was daar boonop snedige kommentaar, onder andere van mense wat gesê het die kind se ouers verdien “ook ʼn pakslae”. Dit het ʼn reeds traumatiese gebeurtenis net verder vererger, sê sy.

“Ek is ʼn baie oorbeskermende ma, ek was nog altyd. Ek is baie erg oor my kinders. Ek is daai ma wat sê moenie met vreemdelinge praat nie, bly naby die onderwysers.

“Ek het ook nog altyd gesê as daar iets is wat jou pla, kom praat met my en [sy en haar dogter] het nog altyd ʼn oop verhouding gehad. Dit maak nie saak wát jy doen nie, dit kán gebeur.”

Die polisie is op soek na dié man vir ondervraging in verband met die voorval.

Die polisie het ná die voorval ʼn skets vrygestel van ʼn man wat gesoek word vir ondervraging in verband met die beweerde voorval. Hy word beskryf as ʼn wit man, tussen 26 en 30 jaar oud, lank en gespierd. Hy het volgens die polisie ʼn rooi, dubbelkajuitbakkie met verdonkerde vensters en silwer stawe aan die agterkant bestuur.

Vir dié ma is dit nou ʼn prioriteit om die man wat haar dogter na bewering verkrag het, agter tralies te sien. “Dit is belangrik dat hy gevang word, ook sodat sy meer gerus kan wees. Die man loop nog daar buite rond. Sy is bang.

“Ons kan nie net op die polisie staatmaak om hom te kry nie. Sommige mense gaan dalk nie verstaan nie en van my verskil, maar ek as haar ma moet álles moontlik doen om hom te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sue ·

Liewe Vadertjie, asb bring die man uit sy skuilplek sodat hy verwyder word. Liefste Mamma en dogter my gebede met julle, mag die verskriklike truma einde kry. Ek is so jammer, so jammer

Kvw ·

Dame my hart gaan uit na jou toe ek het n dogter van 12 jaar oud en glo ek sal haar met my lewe beskerm. Ons is ook woonagtig aan die Wesrand en dit is so so erg om te hoor hoe ons kinders nou aangeval word. Mamma ons dink aan jou en bid dat die Here jou en jou dogter styf was sal hou en deur die moeilike tyd dra. Aan U dogter, meisiekind dit was nie jou skuld nie jy het niks verkeerd gedoen nie. Die tannie dink aan jou en hoop en bid die monster word vinnig gevang. Sterkte mamma!

marous ·

Hoop nie hy is so gelukkig om die binnekant van ‘n sel te sien nie .

Alet Kotze ·

Dis vreeslik. Sterkte Mamma dogter familie en vriende. Mag hul die skuim spoedig opspoor.

Leon ·

Die hartseer is, nadat hy gevang is sal hy binne ‘n paar uur uit wees en sy rooi bakkie terug hê en net so voortgaan. Die volgende keer sal hy lyke agterlaat.

Erika ·

Hoop hy word lewenslank tronk toe gestuur! Sterkte aan die familie..

E ·

Langs ons laerskool was ‘n tweedehandse motorwinkel – die polisie het ‘n pedofiel daar vasgetrek. Ek het ook n dogter van 15 en ‘n seun van 8, ek praat elke dag met hulle oor hierdie goed. Maar tieners is moelik hulle redeneer anders en mens vrees elke dag dat hulle skool toe gaan. Boelies, pedofiele wat hulle as onderwysers voordoen, onderhouds personeel, selfs van’n mens se bure. Ek hoop die dogter en gesin sal hierdeur kom. Mag God hulle krag gee.

Juanita ·

A horrible waste of human life like this man deserves no mercy, may he spend the rest of his life in jail receiving what he did to this young girl. Not only one victim but her family too

Kas ·

Die polisie het dan die meisie by die vulstasie bygestaan Raymond.

PaulV ·

Kas; dit klink vir my Raymond weet wie die skuldige is, of wat dink jy?

PJC ·

Gewoonlik weet die mense nie wat die oortreder se ras is nie wat dit baie moeilik maak om te help om die skuldige te vind dus moet ń mens aanneem dat as daar nie ń ras genoem word nie is die oortreder nie wit nie.

Bekommerde ·

Dankbaar dat die saak aan gegee is – baie sterkte aan die dogter en die hele gesin.
Hopelik word die maniak aangekeer sodat hy nie nog iemand verkrag nie.

Kas ·

Hy het die meisie ‘n week voor die voorval geteiken en ‘n week later haar ontvoer en verkrag.Hoekom het hy haar geteiken.Dit maak nie sin nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.