OUTsurance: ‘Advertensie nie bedoel om te mislei of beledig nie’

'n Skermskoot uit een van OUTsurance se TV-advertensies waarin daar na Tshwane verwys word. Foto: YouTube

‘n Skermskoot uit een van OUTsurance se TV-advertensies waarin daar na Tshwane verwys word. Foto: YouTube

OUTsurance sê die gebruik van ‘Tshwane’ as pleknaam in ʼn TV-advertensie het nie ten doel gehad om enigiemand te beledig of te mislei nie.

Dit kom nadat die burgerregte-organisasie AfriForum ʼn amptelike klag teen OUTsurance se gebruik van ‘Tshwane’ by die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde van Suid-Afrika (ASASA) ingedien het.

Natasha Kawulesar, woordvoerder van OUTsurance, het aan Maroela Media gesê die advertensie is in Centurion verfilm en dat Centurion volgens hulle “deel van die groter Tshwane-metro” is. Kawulesar sê indien OUTsurance verkeerd was om ‘Tshwane’ te gebruik, dit nie met opset was nie.

“Ons erken dat Tshwane nie ‘n stad is nie. Ons is in Centurion gebaseer en is baie trots om inwoners van die groter Tshwane-metro te wees.”

Kwaulesar sê die advertensie word slegs vir ‘n beperkte tyd uitgesaai en sal binne die volgende twee of drie maande nie meer uitgesaai word nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die ASASA het reeds in 2005, na AfriForum se klag teen die City of Tshwane-metroraad, beslis dat dit misleidend is om ‘Tshwane’ as pleknaam of geografiese naam te gebruik.

Volgens Kriel het die feite nie sedert die vorige uitspraak verander nie, en om ‘Tshwane’ as pleknaam te gebruik in die verwysing na Centurion (waar die advertensie vervaardig is), of Pretoria, is dus steeds misleidend.

Lees ook:
AfriForum verkla OUTsurance oor ‘Tshwane’-advertensie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pierre Fourie ·

Aai. Party mense wil maar net nie luister nie! Ek raak so kwaad as hulle na ons mooi stad as Tshwane verwys! Asb kan enige iemand my wys waar hierdie so genaamed “tshwane” stad is?

Sprietjie ·

Daar kan maar gerus na die middestad in Pretoria verwys word as tshwane.

Melissa ·

Ag asseblief OUTsurance!!!! Dit is NIE Tshwane nie, hulle probeer nou weer hulle self net cover, maar jammer om te hoor, ek sal OUTsurance boikot!! Mens verwys nie na die stad of area op die metro se naam nie, dit tel vir alle plekke! Get with it! Dit is PRETORIA en CENTURION en sal Pretoria bly!!!

Wiewatwaar ·

Ek is ‘n groot fan van Outsurance. Sonder hulle groen mannetjies by die robotte die afgelope paar dae in Centurion sou ‘Pretoria’ eerder Kakebeenai of Ossewaenia kon heet! Dankie Outsurance vir julle diens aan die gemeenskap! Kom by mense, die dienste in ons metro is in elk geval ‘n belediging vir die naam!

Melissa ·

Ek het nog nooit van outsurance gehou nie, en sal ook nie net omdat hulle by paar verkeersligte uitgehelp het nie. Het al te veel slegte goed van hulle gehoor en hierdie is net die kersie op die koek!

Melissa ·

En sommer nog iets, hulle moet dadelik daai advertensie verwyder en dit nie nog vir “2 tot 3 maande” uitsaai nie. Hulle mag nie na die stad verwys op die metro se naam nie. En ek is nie trots om deel te wees van die “grooter Tshwane-metro” nie, ek is trots om in PRETORIA te bly!!!

Babs ·

Outsurance advertensies is in elk geval belaglik. Maar dit is wanneer jy gou gaan koffie maak voor jy verder TV kyk.

Johan Kitshoff ·

Jy slaan die spyker op die kop Babs en die advertensies irriteer in elk geval die dinges uit my uit !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.