Pannekoekskilpaaie broei by Pta-dieretuin uit

Die Pretoriase dieretuin is verheug oor vier seldsame pannekoekskilpaaie wat die afgelope week hier uitgebroei het. (Foto: National Zoological Garden/Facebook)

Die Nasionale Dieretuin van Suid-Afrika, beter bekend as die Pretoriase dieretuin, is verheug oor vier seldsame pannekoekskilpaaie (Malacochersus tornieri) wat die afgelope week hier uitgebroei het.

Die dieretuin, wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) bestuur word, het die nuus saam met skattige foto’s van die broeisel op sosiale media gedeel.

Pannekoekskilpaaie word só genoem as gevolg van hulle unieke dopstruktuur: ʼn Plat en buigsame vorm wat hulle in staat stel om in stywe skeure terug te trek wanneer hulle in gevaar verkeer.

Dié skilpaaie is ook bekend vir hulle vermoë om hulleself terug te draai as hulle toevallig op hulle rug beland het; vandaar die verwysing na ʼn pannekoek. Hierdie unieke en bedreigde spesie is inheems aan Tanzanië en Kenia.

Pannekoekskilpaaie benodig ʼn bepaalde temperatuur, humiditeit en dieet om uit te broei. (Foto: National Zoological Garden/Facebook)

Dit was egter nie ʼn eenvoudige taak om die skilpaaie uit te broei nie, het die dieretuin in ʼn Facebook-plasing geskryf.

“Die suksesvolle uitbroei van hierdie vier babaskilpaaie is die resultaat van ʼn span kundiges by die reptielpark van die dieretuin se toegewyde werk en ingewikkelde boerderypraktyke. Dit is veral te danke aan Chadane Pretorius wat vir die suksesvolle teel van hierdie spesie verantwoordelik is.”

Pannekoekskilpaaie benodig ʼn bepaalde temperatuur, humiditeit en dieet om uit te broei, en die Pretoria-dieretuin kon die ideale omgewing verskaf om hulle groei en welstand te ondersteun.

Dié teelprogram is ‘n belangrike aspek van die dieretuin en Sanbi se mandaat om biodiversiteit te beskerm en Afrika-spesies te bewaar en ten toon te stel.

“Teel in aanhouding, soos met die pannekoekskilpad, is noodsaaklik om te help om die voortbestaan van hierdie manjifieke spesie te verseker, veral te midde van habitatverlies, stropery en ander bedreigings in hulle natuurlike habitatte,” sê die dieretuin.

Pannekoekskilpaaie is inheems aan Tanzanië en Kenia. (Foto: National Zoological Garden/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Pragtig. Baie dankie. Gee my hoop vir alles wat nog in SA gebeur, maar wat nie in die koerante beland nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.