Petrol dalk goedkoper in Januarie

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

Januarie sal na verwagting effense verligting aan motoriste bied, met ʼn waarskynlike daling in die prys van petrol en paraffien.

Só sê die Outomobiel Assosiasie (AA) Dinsdag in ʼn verklaring. Dié voorspelling baseer die AA op ongeouditeerde data oor brandstofpryse. “Dit lyk op dié stadium of die petrolprys in Januarie met 17c per liter kan daal en paraffien 4c per liter goedkoper sal wees. Diesel kan egter in Januarie met 1c per liter styg,” lui die verklaring.

Volgens die AA is dié verandering te wyte aan die rand se bevredigende prestasie teenoor die Amerikaanse dollar. “Die rand het gedurende die eerste deel van Desember bestendig gebly teen die dollar en selfs effens verstrek, daarom dat die prys van petrol effens kan daal,” sê die AA.

Volgens die AA het brandstofpryse boonop die afgelope tyd nie noemenswaardig verander nie, wat verhoed het dat motoriste blootgestel word aan ʼn aansienlike styging in pryse wat Suid-Afrikaners aan die begin van die jaar beleef het.

“Hoewel die olieprys effens gestyg het die afgelope paar dae, is dit moeilik om te voorspel of dié neiging sal voortduur,” sê die AA. “As daar nie enige onvoorsiene verrassings is nie, verwag ons dat 2020 sal afskop sonder enige noemenswaardige veranderings in die brandstofprys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Liza ·

Ek is al so dik vir hierdie petrol verhogings………
Dit gebeur gewoonlik as dit naby skool vakansies kom….
Jip jip ons moet geld maak op een of ander manier.
Skelm verby…….

Stof ·

Altyd dankbaar vir elke tiekie ae besparing.
Beter nuus sal ook wees dat die pompstasies wat in die afgelope paar maande LRP se voorsiening gestaak het, tot besinning sal kom en dit weer beskikbaar stel. Dit is regtig ongemaklik en duur om vêr te ry na die pompstasies wat wel aan die gemiddelde voertuig dink. Hulle word waardeer, maar is nie die naaste nie. Om deurlopend ook lood-bymiddels te gebruik eis ook sy duik in die begroting, dus is die naaste stasies, nie juis ‘n besparing nie, nadat die bymiddel koste bygereken is nie.
Daar is nie sin daarin om die gemiddelde padgebruiker met sy gemiddelde voertuig, te vervreem deur LRP te onttrek aan baie stasies nie. Om op hierdie bevooroordelende wyse, slegs die eienaars van nuwer en luukser voertuie te akomodeer, kom eintlik neer op ‘n wrede manier van sosiale segregasie.
En nou, wag ek vir die goeie nuus, dat LRP weer vrylik beskikbaar sal wees.

Isak ·

Ag hou julle 17 sent. Ons betaal noegsteeds duurder as die buite land wat hulle petrol by ons kry. Julle maak ons nie meer bly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.