Petrolprys bereik nuwe rekordhoogte

Beide 93 oktaan- en 95 oktaan-petrol se pryse sal Woensdag nuwe rekordhoogtes bereik wanneer die pas-aangekondigde styging van 41c per liter in werking tree.

95 oktaan-petrol in Gauteng sal R12,27 per liter kos en 93 oktaan-petrol sal R12,06 kos. Die vorige rekordpryse is in Mei 2012 behaal, toe dit onderskeidelik R12,22 en R12,05 was.

“Die leiheffing op petrol en diesel het met 2,2c per liter gedaal, wat die styging in die pryse vanaf ongeveer 43c en 20c per liter verlaag het tot 41c en 17,8c per liter,” het Paul Joubert, senior navorser by Soldariteit se Navorsingsinstituut, aan Maroela Media gesê.

“Die groothandelprys van diesel met ʼn 0,05% swawelinhoud is nou R 11,2917 per liter. Dit is nie ʼn rekordprys nie, maar is wel die vyfde hoogste nominale groothandelprys wat nog in Suid-Afrika behaal is.”

Joubert sê behalwe as daar deur die loop van Februarie ʼn drastiese styging in die waarde van die rand teenoor die dollar is, of ʼn drastiese daling in internasionale petroleumprodukpryse, sal daar in Maart verdere groot stygings in die pryse van petrol en diesel wees. “In April van elke jaar word die staat se heffings op petrol en diesel aangepas. Dit gee ook ʼn risiko aan die stygingskant vir die pryse in April,” het Joubert gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.